Gesloer met nadoodse verslae het geliefdes raadop

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Ná meer as ʼn jaar en baie trane wag ʼn jong ma van Centurion steeds op die uitslag van die nadoodse ondersoek wat ná haar man se skielike dood uitgevoer is.

Politici sê nou staatslykshuise in Gauteng is berug daarvoor dat hulle lank neem om die finale verslae ná die uitvoer van nadoodse ondersoeke aan die naasbestaandes te stuur.

Die Gautengse departement van gesondheid het gevolglik in ʼn stadium verlede jaar ʼn agterstand van byna 11 000 nadoodse ondersoeke gehad.

Intussen kan geliefdes en agtergeblewenes nie berusting vind nie, hofsake nie voortgaan nie en versekeringspolisse nie uitbetaal word nie, sê Jack Bloom, die DA se woordvoerder vir gesondheid.

“Ek kan nie terugdraai en keer dat dit gebeur het nie, maar ek wil steeds weet wát gebeur het,” vertel dié ma van twee wat haar man in Januarie verlede jaar skielik aan die dood afgestaan het.

Sy vertel, op voorwaarde van anonimiteit, dat haar 36-jarige man op 15 Januarie 2022 in die Kalefong-provinsiale hospitaal dood is nadat sy hom in die vroeë oggendure in hul slaapkamer aangetref het.

Haar man is daardie oggend na Kalefong gehaas en is later dood verklaar. ’n Voorlopige nadoodse ondersoek is in die dae daarna gedoen en die ondersoek het gedui op moontlike breinvliesontsteking.

Jack Bloom. (Foto: ANA)

Dít kan daar egter nou nog nie met sekerheid gesê word nie, aangesien sy nooit ʼn finale nadoodse verslag ontvang het nie. Luidens die doodsertifikaat word die oorsaak van sy dood nog ondersoek.

“Ek wil net berusting vind,” vertel die ma. “Ek lees elke dag van soveel mense wat geliefdes aan die dood afgestaan het en dae daarna reeds antwoorde ontvang oor wat gebeur het. Dit voel of mense met mag en geld die enigste is om daardie antwoorde te kry.”

Bloom sê egter nou daar is inderwaarheid duisende naasbestaandes wat maande en selfs jare wag op nadoodse verslae. Hy ontvang gereeld klagtes.

Luidens inligting van die departement kan die uitvoer van ʼn nadoodse ondersoek van 60 tot 90 minute neem, terwyl die opstel van die verslag van vier tot ses weke per geval kan neem.

Volgens Bloom lê die probleem nie by die uitvoer van die nadoodse ondersoek nie, maar die eenvoudige opstel van die verslag. “Dit kan maande neem om die verslag te tik.”

Baie van die vertragings in die finale verslae word toegeskryf aan die wag op resultate van biochemiese bloed- en toksikologietoetse van die forensiese chemiese laboratoriums wat deur die nasionale departement van gesondheid bestuur word.

“En dit klink dalk na simpel verskonings, maar in baie gevalle is daar bloot nie ʼn tikster beskikbaar nie of ʼn werkende fotostaatmasjien nie. Dit is nie ongewoon nie. Dit is die norm.”

“Dit is geweldig ontstellend,” sê Bloom.

Maroela Media het vroeër vandeesweek navrae aan die Gautengse departement van gesondheid en die polisie gestuur. Die polisie se forensiese afdeling het alle navrae na die departement verwys. Maroela Media wag steeds op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Elene ·

Wag 4 maande vir verslag na moord. Liggaam week ná dood reeds veras. Wat kan so lank neem? Ons wil weet wat het my pa se dood veroorsaak – skietwonde ja, maar waar?

Christine ·

Ons seun(29 haar oud) baie fiks en gesond, het 4.5 jr gelede dood neergeslaan in Johannesburg. Ons wil net weet hoekom. Ons wag nog steeds. Dis ‘n nimmereindigende nagmerrie.

Penelopi ·

My man is in 2021 oorlede – ons wag ook nog steeds vir die uitslag van die nadoodse ondersoek.

Dandeleen ·

My swaer is die jaar al sewe jaar dood en steeds wag ons op uitslae. Ons het al ale hoop verloor om uit te vind wat gebeur het en waarom hy so vroeg van ons af weg is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.