Gevolge van afsonderingsperiode sal jare lank voortduur

(Foto: pixabay)

Uiters uitdagende saketoestande, kleiner markte, massa-afleggings en verminderde inkomste was duidelik gedurende die grendelstaattydperk tot Augustus 2020.

Baie ekonomiese aanwysers toon nou die ernstige impak van die drakoniese Covid-19-grendelstaat met sy vele irrasionele en ongeregverdigde belemmerings op ekonomiese waardeskepping.

Dit is volgens die sakegroep Sakeliga se Ekonomiese Oorsig vir Besluitneming in die Sakewêreld, ‘n kwartaallikse verslag wat Donderdag in samewerking met ETM Macro Advisors vrygestel word.

Die verslag dui op die ernstige impak van die Covid-19-afsonderingsperiode. Ondernemings word in die verslag aangeraai om voor te berei op ‘n kleiner ekonomie en ‘n 10% – 20% kleiner omset en verdienste op die medium-termyn in vergelyking met voor die afsonderingsperiode. Ander indekse in die verslag het ʼn afname in nywerheidsproduksie aangedui sowel as aansienlike dalings in belastinginkomste.

Daarbenewens is daar ook aanduidings dat ondernemings wat aanvanklik die negatiewe gevolge van die grendelstaat gespaar is, nou moeiliker bedryfsomstandighede begin ervaar.

“Dit is duidelik dat ‘n afname van 10% – 20% in omset en verdienste nie net aanstellings beïnvloed nie, maar ook ondernemings se uitbreidingsplanne, nuwe beleggings sowel as die vermoë van die privaat sektor om die beste te maak van enige oplewing in kommoditeitsmarkte,” sê Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga.

“Die nadelige gevolge van die grendelstaat sal waarskynlik nog ‘n aansienlike tydjie duur. Nie net het werksgeleenthede verlore gegaan en inkomste en spaargeld is verminder nie – met waarskynlik ʼn toename in skuld oor die algemeen – maar daar is steeds irrasionele en onsamehangende beperkings in verskillende sektore. Afgesien van die oorblywende beperkings en probleme met elektrisiteitsvoorsiening, sal bedreigings van bykomende belasting vanuit alle regeringsvlakke waarskynlik net toeneem namate die staat meer en meer desperaat raak vir hulpbronne.”

Die verslag dui op die moontlikheid dat ‘n staatsleningsbehoefte tot R1 000 miljard sal uitbrei, veel meer as die voorspellings van die nasionale tesourie van R770 miljard wat in die aanvullende begroting aangebied word.

“Om sake te vererger,” voeg Van Onselen by, “word voortgesette dreigemente oor die terugkeer na streng algehele inperkingsmaatreëls op ʼn amper daaglikse basis gemaak deur amptenare met klaarblyklik weinige nadenke oor die skade wat dit berokken aan lewensbestaan. Dit is verseker net logies om te verwag dat ondernemings waaksaam sal wees met beleggings en uitbreidings onder sulke onsekerheid oor regulering en beleid. Sodanige onsekerheid berokken egter skade aan die ekonomie se herstel. Minder belemmerende vorme van risikovermindering moet nou oorweeg word.”

Presidensiële telkaart

Die verslag bied ook ‘n presidensiële beleidstelkaart vir Suid-Afrika. Hierdie telkaart het ten doel om die huidige administrasie se beleide se werklike impak op die ekonomie te bepaal, uitgedruk in ʼn indeks van ‘n aantal faktore soos beleggingsmaatreëls, die rand, effekte-opbrengste, energieproduksie, politieke beperkings op die nywerheid en fiskale druk.

Die sakesiklus-aangepaste Sakeliga-ETM presidensiële beleidstelkaart gee die Ramaphosa-administrasie ‘n huidige telling van 20 uit 100. Dit is noodsaaklik dat hierdie telling minstens bo 40 styg om die geweldige verlies aan vertroue in die nadraai van die streng en irrasionele Covid-19 grendelstaat te stuit.

Om die telling te verbeter, sê Van Onselen, moet die huidige administrasie nie net die oorblywende grendelstaatregulasies beëindig en dit vervang, indien nodig, met vrywillige gesondheidsaanbevelings nie, maar ook baie ander beleide wat waardeskepping belemmer moet hersien word. Sulke beleide sluit in arbeidsregulering, Swart Ekonomiese Bemagtiging (BEE), belasting en staatsbesteding.
“In die nadraai van die grendelstaat, het die tyd aangebreek vir meer sake en minder politiek. Gesentraliseerde politieke risikobestuur en eensydige ingrypings en verbodsbepalings is deur die grendeltydperk gebruik met voorspelbare rampspoedige gevolge. Die regering moet nou dringend sy beleide hersien en vryheid toelaat vir ekonomiese herstel om te kan plaasvind,” sluit van Onselen af.

Lees die volledige verslag hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Fritz ·

Dis nou wat gebeur as 95% van die wêreld se mense hulle geld moet opoffer vir die ander 5% se lewens. Daar moes nie eens n enkele dag inperking gewees het nie. Mag diegene met die sterkste immuniteit oorleef.

Jaco ·

Een GROOT gevolg van inperking word nie genoem nie. Die “uithaal” van wit mense uit die ekonomie. Kort na inperking begin het, het ramaphosa gesê inperking wys hoe ongelyk SA is en dat wit mense se “beheer” oor die ekonomie moet stop.
Indien die ANC nog “afsondering” beplan, sal die volgende perfek werk:
vra die ANC om dadelik onteiening sonder vergoeding te begin in 8 van die 9 provinsies, wit mense se stemreg weg te vat en ons formeel 2de klas burgers te maak. Verskuif al die wit mense Wes-Kaap toe; gedwonge verskuiwings soos wat die vorige wit regering met swart mense gedoen het. Maak die Wes-Kaap ‘n wit tuisland met selfregering vir hulle eie sake. Laat buitelandse beleggings daar toe. Maak belastings ook hoër om steeds inkomste vir die sentrale regering in Pretoria te verseker. Kortom, bring apartheid terug en “mik” dit teen die wit mense.
Einddoel: gehate wit mense finaal gestraf vir apartheid, res van SA cash in uit hulle EN wit mense regeer hulself

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.