Gʼn wrede, bangmaakstories in dié sprokieland

Rodeen Visser-Ludick saam met haar dogtertjies Juliana (amper vier) en Olivia, wat agt maande oud is. (Foto: Verskaf)

Rodeen Visser-Ludick, ʼn ma van twee, se behoefte om vir haar eie kinders slaaptydstories te vertel, het sommer vinnig in ʼn hele skatkis propvol luisterstories ontwikkel.

“Ek het ervaar dat baie van die bestaande kinderstories, ook klassieke verhale soos “Die drie varkies” en “Rooikappie”, eintlik nogal wreed is. Daarom het ek begin om sommer self ʼn paar stories op te maak en vir my dogtertjie te vertel,” sê Visser-Ludick in ʼn onderhoud met Maroela Media.

Die idee om self stories te skep was aanvanklik heel opwindend, maar dit het later al moeiliker geword.

“Party aande was ek so bietjie moeg en nie lus om ʼn storie op te maak nie. Ek het toe besluit om die stories vooraf met my selfoon op te neem en in die aand vir Juliana (amper vier) te speel.” Visser-Ludick het nog ʼn dogtertjie, Olivia, wat agt maande oud is.

Dit is eers later toe haar man voorstel dat sy die stories op YouTube laai dat die idee verder ontwikkel het.

“As ʼn mens ʼn YouTube-kanaal wil begin moet jy ʼn profielfoto en ʼn naam vir die kanaal hê. So het Sprokieland – Afrikaanse kinderstories begin en op 27 Januarie 2020 is die eerste storie opgelaai.” Haar kanaal het sedertdien gegroei en het tans meer as 2 500 volgelinge.

Visser-Ludick sê dit is vir haar belangrik dat hier geen wrede of bangmaakstories vertel word nie. Haar doelwit is om oulike stories oor diere en kinders wat op die wonderlikste avonture gaan, te skep.

Rodeen Visser-Ludick se doelwit is om oulike stories oor diere en kinders wat op die wonderlikste avonture gaan, te skep. (Foto: Sprokieland/Facebook)

Van die stories bevat ook ʼn les, soos “Stoute kietie kat” wat kinders leer om nie hulle maats te boelie nie en jammer te sê wanneer hulle iets verkeerds gedoen het.

Die storie gaan oor ʼn kat wat sy maats terg en boelie en in die proses al sy maatjies verloor en alleen is. Hy huil dan by sy ma omdat niemand skielik meer met hom wil speel nie. Kietie kat se ma reël toe ʼn partytjie, maar dan moet Kietie kat eers vir almal jammer sê en belowe om nooit weer lelik met sy maats te wees nie.

Visser-Ludick sê sy glo daar is nog ouers soos sy wat op soek is na sulke stories. Op haar kanaal kan ouers dus met ʼn geruste hart die stories vir hul kinders speel en sommer saam luister.

“Ek weet hoe belangrik dit is om rêrig te luister, daarom fokus ek slegs op luisterstories. Daar is geen animasies by my stories nie, omdat ek kinders van kleins af wil leer om te luister en om hul verbeelding te gebruik,” verduidelik sy.

Volgens Visser-Ludick bied Sprokieland – Afrikaanse kinderstories iets vir oud en jonk. “My stories is nie net vir kinders nie, maar vir ouer mense ook. Ek weet van ʼn hele paar ouer luisteraars wat ook die stories geniet. Dit laat hul vir daardie oomblik weer soos ʼn kind voel en dan vergeet hul van enige pyne en probleme.”

Luister hier na ʼn voorsmakie van een van Visser-Ludick se luisterstories op haar YouTube-kanaal Sprokieland – Afrikaanse kinderstories.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.