Goeie reën maak damme propvol

Die Oranjerivier naby Philippolis. Jens Friss het die foto op Facebook gedeel.

Die meeste van Suid-Afrika se damme is heerlik vol nadat reën oor groot dele van die land uitgesak het.

Die departement van water en sanitasie se weeklikse verslag oor damvlakke dui ook op ʼn toename in die watervlakke van reservoirs. Waar dit ʼn week gelede op 87,6% gestaan het, staan reservoirvlakke nou op ʼn gemiddeld van 89,8%. Dit is ʼn aansienlike verbetering van die 77,8% waarop dit dieselfde tyd verlede jaar gestaan het.

Die styging in damvlakke is goeie nuus, veral omdat die land se damvlakke die laaste ruk op ʼn afwaartse kurwe was.

Die geïntegreerde Vaalrivierstelsel het van 91,5% verlede week tot 93,3% gestyg. Dit is die land se grootste stelsel en bestaan uit 14 damme met opvangsgebiede in die Vrystaat, Noord-Kaap, Mpumalanga en Noordwes.

Die Gariep-dam, Suid-Afrika se grootste dam, is nou tot oorlopens toe vol en staan op 102,6%, in vergelyking met verlede week se 93,4%.

Sterkfontein, een van die damme in die geïntegreerde Vaalrivierstelsel, se vlak is tans 100,1% (van 99,6% ʼn week gelede) en die Vaaldam se vlak het gestyg van 89,9% tot 91,3%.

Sewe van die land se nege provinsies het stygings in watervlakke gehad.

In die Noord-Kaap was daar ʼn effense daling, van 96,6% na 96,1%, met dieselfde neiging in die Wes-Kaap waar opgaarvlakke van 69,9% na 69,1% effens teruggesak het.

Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement, het Suid-Afrikaners steeds gemaan om water spaarsaam te gebruik, selfs al het die afgelope ruk se goeie reën in opvangsgebiede tot ʼn styging in watervlakke gelei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Roek ·

Die vraag is , hoeveel riool ook nou daagliks as opvangs gebied intree,

Phillip ·

Dankie Abba Vader vir die lieflike reën . God is groot. Soos stiltetyd vir ons stel haal aan :(Sommige besighede het nog klagte-afdelings, maar geen dankiesê-afdeling nie.) Ons se timin dankie

Koos 100 ·

Ek is dankbaar vir die reën, maar water in die damme is welkom, maar die regering het vergeet hoe om daai water by die mense uit te kry!

Hannelie ·

Koos van watter mense praat jy? Net ter inligting water uit die staat se damme word nie aan individue gestuur nie, tensy jy van die Munisipaliteite praat.

Johann ·

En danksy die onbevoegde ANC kaders is die lewens kosbare water binne dae besmet en besoedel.

Danie ·

Darem een goeie nuus vir die dag.Ek hoop die bestuur is op en wakker om die invloei te bestuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.