Groblersdal-twee hoor eers later oor borgtog

Piet Groenewald tydens Woensdag se hofverrigtinge. (Foto: Isabel Venter/Maroela Media)

Die pa en stiefseun wat daarvan beskuldig word dat hulle ʼn werker aangerand het, sê hulle het hom probeer help ná hy hulle aangerand het.

Piet Groenewald (63) en Stephan Greeff (27), sy stiefseun, het weer Woensdag in die landdroshof op Groblersdal in Limpopo verskyn op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Groenewald is die eienaar van Wildlife Investigation & Protection Services (WIPS).

Luidens die klagstaat het die twee vir Veneruru Kavari (30), een van hul veiligheidswagte, met ʼn piksteel aangerand, ʼn veiligheidshond aangehits om hom te byt en hom glo met ʼn onbekende vloeistof ingespuit.

Groenewald en Greeff het dié weergawe van die staat ontken. In twee eedsverklarings het albei hul kant van die saak gestel as deel van hul borgtogaansoek. Al twee het in blou-en-wit geruite hemde in die hof verskyn. Hulle het hul familie in die openbare galery gegroet en met hulle gesels.

Volgens Greeff het hy op 17 Januarie ʼn oproep ontvang dat Kavari “hewig onder die invloed [van drank] is” terwyl hy by ʼn selfoontoring aan diens was. Hy het ʼn voertuig gestuur om Kavari te gaan oplaai en na WIPS se kantoor te bring.

“Toe hy [Kavari] uit die voertuig klim, was hy sigbaar dronk, aggressief en arrogant. Hy was ook gewapen met ʼn panga en die handvatsel van ʼn piksteel,” lui Greeff se verklaring.

Volgens Greeff het Kavari die piksteel in die rigting van hom en Groenewald gegooi. Groenewald het die piksteel opgetel in ʼn poging om verdere aanranding van Kavari te verhoed.

Piet Groenewald (63) en Stephan Greeff (27). (Foto: Isabel Venter/Maroela Media)

Luidens Groenewald se eedsverklaring het die piksteel hom en die veiligheidshond getref.

“Die klaer [Kavari] het steeds die panga gehad en gedreig om ons daarmee aan te val,” lui Greeff se verklaring voorts.

Hy het die veiligheidshond by hom gehad en dié het volgens hom aggressief begin raak weens Kavari se vyandigheid. Volgens Groenewald het die hond losgekom en Kavari aangeval. Hy en Greeff ontken al twee dat hulle die hond aangehits het om Kavari te byt.

Groenewald het die hof ook meegedeel dat hy Kavari se wonde behandel en verbind het ná die hond in bedwang gebring is.

Hy het ook vir Kavari ʼn klem-in-die-kaak-inspuiting gegee en aangebied om hom hospitaal toe te neem.

“Ek is ʼn opgeleide paramedikus. Ná die voorval het ek die klein wonde van Kavari ontsmet, Betadine-salf aangesmeer en dit behoorlik verbind met verbande. Ek het hom ook ʼn klem-in-die-kaak-inspuiting gegee … Ná hy geweier het om hospitaal toe te gaan, het ek aangebied om hom die volgende dag te neem, maar hy het nie opgedaag nie.”

Kavari sou glo aan tugstappe onderwerp word omdat hy na bewering besope was en het hy glo die aanrandingsklagte aanhangig gemaak in ʼn poging om dit te omseil.

Konst. Grigory Maleasenya, ondersoekbeampte, het op ʼn vraag van landdros Bogi Mashele gesê die wonde het “vreeslik” gelyk.

“ʼn Mens sou selfs kon dink dit was ʼn leeu wat hom gebyt het,” het Maleasenya getuig.

Hy het getuig dat dit nie in belang van reg en geregtigheid sal wees om Greeff of Groenewald op borgtog vry te laat nie. Volgens hom sal hul lewe in gevaar wees en kan hulle ook inmeng met getuies.

Een van die getuies is ʼn werknemer van WIPS wat reeds gevlug het. “Ek kan nie sê waar die getuie hom bevind nie, hy vrees vir sy lewe.”

Op ʼn vraag van adv. Casparus van Wyk, Greeff en Groenewald se regsverteenwoordiger, het Maleasenya gesê daar sal later oorweeg word of die getuie in getuiebeskerming geplaas moet word.

Van Wyk het dit aan Maleasenya gestel dat die ooggetuie se weergawe bekom is “as ʼn nagedagte” en daarom bog is. Hy het volgehou dit is in die belang van geregtigheid om Greeff en Groenewald vry te laat en dat hulle nie met die saak sal inmeng nie.

Politiekery voor verkiesing

Bheki Cele, minister van polisie, by die hof op Groblersdal. (Foto: Isabel Venter/Maroela Media)

Greeff en Groenewald het die hof gevra om nie ag te slaan op die politiekery buite die hof nie.

“Dít is ʼn arbeidsaangeleentheid wat nou deur politieke partye uitgebuit word om goedkoop punte aan te teken vir die komende verkiesing,” voer albei aan.

Hy het verwys na Ronald Lamola en Bheki Cele, ministers van onderskeidelik justisie en polisie, wat ʼn skare betogers – bestaande uit die ANC, EFF en ACDP – buite die hof toegespreek het.

“Die staat het ʼn swak saak teen my en die enigste rede hoekom borgtog geweier word, is om die beskuldigdes te straf.”

Buite die hof het Cele en Lamola die betogers gevra om kalm te bly.

“Almal het die reg om te betoog, maar daar is nie plek vir rassistiese vlae nie,” het Lamola gesê.

Betogers buite die hof op Groblersdal. (Foto: Isabel Venter/Maroela Media)

Oor hoekom hy en Cele besluit het om by die hof te wees, sê Lamola: “Enige voorval wat rasgedrewe is, moet veroordeel word, dit is hoekom ons hier is. Niemand kan enigiemand verhoed om na die hof te kom nie.”

Hy het verwys na ʼn voorval toe sommige betogers tydens Groenewald en Greeff se vorige hofverskyning met die Vierkleur by die hof opgedaag het. Tydens dié verskyning is Francois van der Merwe, ʼn direkteur van die Bittereinders-beweging, in hegtenis geneem.

Lamola en Cele het na die Vierkleur as rassisties verwys.

“Ons veroordeel die gebruik van dié vlag. Dat betogers dit gebruik het is, kommerwekkend omdat dit herinneringe oproep van ʼn tyd toe diskriminasie en ongelykheid hoogty gevier het,” sê die ministers in ʼn bykomende verklaring.

“Die Vierkleur-vlag is ʼn simbool wat ʼn vervloë era van kolonisasie en apartheid verteenwoordig. Hierdie vlag het historiese betekenis, maar dit dra ook konnotasies van ʼn tyd toe swart mense hul basiese regte geweier is.”

Memorandum oorhandig

AfriForum en die Groblersdal Rural Safety and Cattle Association het ook van die geleentheid gebruik gemaak om ʼn memorandum aan die ministers te oorhandig. Hierin word die ministers gevra om ondersoek in te stel na die polisiekantoor én die hof op die dorp “wat nie hul take na behore verrig nie”.

“Die gemeenskap doen hul bes om misdaad te bekamp, maar kry nie die nodige steun van die polisie of hof nie,” lui die memorandum.

  • Groenewald en Greeff sal in aanhouding bly tot hul volgende hofverskyning op 7 Februarie. Die hof het aangedui hy is nog nie gereed om uitspraak te lewer nie en het gevra om onder meer bepaalde videobewyse in die saak te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johann ·

Leeu byte?????? En die twee aandag vrate van die ANC kom maak verkiesings foefies by die hof? Net as jy dink niks kan jou meer oorbluf nie.

Jannie van Niekerk ·

Almal met ‘n IK van Laer as Nul weet dat die sogenaamde voorheen benadeeldes soos tandetrekkers lieg net om wittes rassisties te laat lyk. Sit hulle onder hipnose dan sal die waarheid uitkom.

Sobymykoolkop ·

Dat ń stukkie lap hulle nou so op loop laat gaan. Raak gewoond aan daai vlag, wapper gaan dit nog…..bang as daai vlag die regte manne saamsnoer

Papsak ·

Nou verwyder julle anc vlag dan ook hy net so aanstootlik en rassisties en julle self ook sommer !!!!!!

George ·

@sobymykoolkop, maar die afrikaner kan nie saam staan nie, dis al oor en oor bewys, ek en my gemeenskap is afrikaans, maar julle sien die kleur raak en nie die taal nie.

Gaitsigubib ·

George mense wat die selfde eienskappe en belangstellings het trek ongelukkig mekaar aan. Dit is n natuurlike proses en kan nie ontken word nie. Dit het bv. die afrikaner gemeenskap en ook die kleurling gemeenskap vanself laat ontstaan, baie lank voor apartheid. Ek is jammer dat die sigbare verskille bevooroordeling veroorsaak want om deel van n gemeenskap te “word” is ook n keuse maar is nie altyd maklik nie. Jy wil dalk n Boer in murg en been wees maar het nie sentiment aan die vierkleur vlag nie. Alles wat n Boer sy unieke identiteit gee, word deesdae as rasisties beskou en dis jammer want dit is totaal onsin. As ek en jy mekaar beter leerken stem ons dalk oor 90% saam. Ons verskille behoort egter nie vyandigheid te veroorsaak nie.

AREND1 ·

Voorheen was cele en lamola nog nooit so by die hof as as n blanke aangeval is nie.Nou wil hulle konsuis gaan.

Althes ·

Lyk my die ondersoekbeampte maak gebeure dramaties. Weet hy hoe lyk ñ leeubyt?

Boer ·

So al die vlae is nou apartheidsvlae die vierkleur, die vrystaatsvlag en seker ook die union jack. As daar video bewyse is en dit kan bewys dat hulle onskuldig is dan moet die 2 mans die staat dagvaar vir miljoene. Ook as ek dronk by my werk kom dan word ek dadelik gefire

Andre ·

…as Cele eers betrokke raak, kan die beskuldigdes maar vergeet.
Groet maar geregtigheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.