Groen lig om 2022 te vier

Argieffoto (Foto: Ulrike Mai/Pixabay)

ʼn Spesiale kabinetsvergadering is Donderdag gehou en verskeie veranderings aan vlak 1 van die Covid-19-inperkingsreëls is goedgekeur.

Dit volg ná vergaderings van die nasionale koronavirusbeheerraad en die president se koördineringsraad oor die vierde golf van Covid-19 in Suid-Afrika wat hoofsaaklik deur die Omikron-variant aangedryf word.

“Alhoewel die Omikron-variant hoogs aansteeklik is, was daar ʼn laer koers van hospitalisasie as tydens vorige golwe,” het Mondli Gungubele, minister in die presidensie, in ʼn verklaring gesê. “Dit beteken die land het kapasiteit vir pasiënte vir roetine gesondheidsdienste.”

Veranderinge aan die inperkingsreëls

  • Die aandklokreël word opgehef. Daar is dus geen beperkings op die ure van beweging van mense nie.
  • Byeenkomste vir funksies word beperk tot 1 000 mense binnenshuis en 2 000 mense buite. Waar die venue te klein is om dié getalle te hanteer, word dit beperk tot 50% van die kapasiteit.
  • Instansies wat alkohol verkoop en gelisensieer is om ná 23:00 alkohol te verkoop, keer terug na volle lisensiëringsvoorwaardes.

Die nasionale koronavirusbeheerraad sal die situasie bly monitor en verdere aanpassings maak soos nodig, veral indien die druk op gesondheidsorgfasiliteite toeneem.

Die dra van gesigmaskers bly verpligtend.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.