Groot kommer oor medisyne-tekorte in Noord-Kaap

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die Demokratiese Alliansie (DA) wil dringend ‘n volledige verduideliking hê van die Noord-Kaapse departement van gesondheid oor hoe dit van plan is om lewensgevaarlike medisyne-tekorte in die provinsie te hanteer.

Isak Fritz, die DA se provinsiale premierskandidaat, sê die departement het in September ʼn aanhoudende afname in die gemiddelde beskikbaarheid van medisyne aangemeld.

“Die departement het dit toegeskryf aan verskaffers wat aflewering weier in gevalle waar agterstallige rekeninge nie betaal is nie. Dit het ook erken dat kontantvloei-beperkings die betaling van rekeninge belemmer en dat, bo en behalwe tekorte in distrikte, sekere medisyne ook nie beskikbaar is by die provinsiale mediese depot nie.”

Die DA het aanvanklik kommer uitgespreek oor ʼn reeks aanrandings by die nuwe psigiatriese hospitaal in Kimberley. Nege voorvalle is veroorsaak deur newe-effekte ná die verandering in behandeling as gevolg van Clopazine wat nie in voorraad was nie. Clopazine is ‘n antipsigotiese middel wat gebruik word om geweld en aggressie te beheer in pasiënte wat aan skisofrenie en bipolêre versteurings ly.

“Ons het ook vrae ingedien oor pasiënte wat beenmurg-onderdrukking getoon het wat deur een van die MIV-weerstandige TB-medisyne veroorsaak is. Die medikasie is gestaak en bloedoortappings is gegee. Ons wag steeds op ʼn reaksie of die nadelige effekte ook veroorsaak is deur ‘n verandering in behandeling as gevolg van ʼn gebrek aan die gewone medikasie.”

Fritz sê die party se aanvanklike kommer het toegeneem nadat aan die lig gekom het dat meer as 300 medisyne, meeste vanaf die lys van noodsaaklike medisyne, in die Pixley ka Seme-distrik uitgeput is, en waarskynlik ook in ander distrikte. Sommige van hierdie medikasies is al vir drie maande uitgeput.

Die lys van medisyne-tekorte is omvangryk en wissel van basiese pynmedikasie soos Panado tot antiretrovirale middels, steroïede, skildkliermedikasie, glukosedruppels, diabetesmedikasie, bloeddrukpille, medikasie vir ischemiese hartsiekte, anti-cholestrol medisyne, medikasie vir ooginfeksies, antibiotika, tetanus, hondsdolheid-immunoglobulien, verstuiwingstoestelle, vitamiene vir swanger vroue wat kan lei tot rugmurgdefekte by babas, smeerjellies vir prosedures soos die aanbring van kateders, anti-epileptiese medikasie om aanvalle te stop, ontsmettingsmiddels vir die skoonmaak van chirurgiese toerusting, druppe, griep-entstof en baie meer.

“Medisyne-tekorte kan nadelige effekte hê en selfs lewensgevaarlik wees. Die DA het vrae ingedien om ‘n omvattende lys van tekorte reg oor die provinsie te verkry, insluitend uitstaande skuld aan farmaseutiese maatskappye, sowel as planne om die situasie te beperk en onnodige lewensverlies weens ‘n gebrek aan medikasie te voorkom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johann ·

Daars net eenvoudig geen beplannings bevoegdheid onder díe klomp nie. Sal letterlik als gebruik en opvreet en more wonder…how nouw wah hy es die merrisyne? Om van te betaal vir iets ook nie. Als is mos forhniet byri ANC se lant

Wonder net ·

Dis nie net daar nie. Ek is in MB Mpumalanga, en sukkel net so met medikasie, veral verkoue en pyn meds vir die kids asook my Eltroxin vir skildklier.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.