‘Groot voorval’ by internetdiensverskaffer lê webwerwe lam

‘n Kuberaanval het verskeie webwerwe, ook dié van Maroela Media, lamgelê. (Skermgreep)

*Die Maroela Media-webwerf is intussen weer herstel.

Sommige webwerwe en internetgebruikers is steeds van lyn nadat groot probleme sedert Woensdagoggend by die internetdiensverskaffer RSAWeb ondervind is.

Die onderbreking in dienste het webwerwe soos Maroela Media, MoneyWeb en JacarandaFM platgetrek. Teen Donderdagoggend is dienste aan sommige kliënte wel herstel, terwyl talle ander steeds verbindingsprobleme ondervind het.

Maroela Media se webwerf was teen Donderdagoggend steeds nie beskikbaar nie.

“Ons moet ongelukkig meedeel dat ons webbediener nog steeds nie gereed is nie. Tegniese spanne was deurnag aan die spook om die stelsel weer aan die gang te kry. Ons het, in die byna 12 jaar wat ons al op die lug is, nog nooit só lank moes wag om saam met jou te kuier nie. Die joernaliste sit op hete kole gereed om die nuus te deel,” lui die boodskap op Maroela Media se Facebook-blad.

“Dankie vir elke leser se geduld. Ons glo ons is bietjie later vandag terug by jou.”

RSAWeb het Donderdag vroeg op Twitter gesê sy ingenieurs het deurnag gewerk om dienste te herstel.

“Kliënte met mobiele APN, wolk- en VoIP-dienste sal steeds verminderde of ontwrigte diens ondervind terwyl ons ingenieurs aan ʼn permanente oplossing werk,” lui ʼn kennisgewing van die diensverskaffer.

RSAWeb het vroeër gesê hy het ʼn “groot voorval” op sy wolk-platform ondervind en het kort daarna die oorsaak daarvan geïdentifiseer. Die maatskappy het egter nie besonderhede oor wat presies die voorval behels, verskaf nie.

Hy het wel gewaarsku die herstel van dienste gaan langer duur as wat aanvanklik verwag is.

Kobus Bezuidenhout, web- en tegniese bestuurder by Maroela Media, sê RSAWeb se stelsels is in ʼn kuberaanval binnegedring.

“RSAWeb het hul stelsels geïsoleer en stelselmatig begin om hul dienste te herstel en seker te maak die stelsel is veilig. Die herstel neem lank, want die integriteit van elke stelsel word nagegaan,” sê Bezuidenhout.

“Maroela Media en RSAWeb het nog altyd maatreëls in plek om hul stelsels en ons inligting te beskerm en fokus ook om die sekuriteit nog meer op te skerp.”

Die webwerf networkstatus.co.za het vanoggend aangedui dat die meeste probleme in Gauteng en die Wes-Kaap aangemeld is.

  • Hou Maroela Media dop; ons is binnekort weer terug.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.