Gru-aanval: ‘Ek vergewe … maar kan nie vergeet’

Ronelle Coetzee, Kareedouw, Oos-Kaap, aanval, vonnis, misdaad, Ivan Draai, Emmanuel November, SAPS

Ronelle Coetzee (67) woon deesdae in die Kaap ná sy in haar Kareedouw-woning aangeval is. (Foto: Verskaf)

Sy is herhaaldelik met ʼn skaapskêr in die kop gesteek. Haar arm is met ʼn bottel stukkend gesny. En dit het Ronelle Coetzee (67), voorheen van Kareedouw in die Oos-Kaap, meer as ʼn jaar geneem om van die wonde te genees wat haar aanvallers gelaat het.

Tog lê die emosionele letsels nog vlak; dit is rou en seer.

Dit was Coetzee se getuienis in die Kareedouw-streekhof waar haar aanvallers, Emanuel November (33) en Ivan Draai (34), skuld beken het.

“Ek vergewe hulle, want anders kan ek nie gesond word nie. Maar ek kan nie vergeet nie. Ek het dit so getuig in die hof,” het Coetzee telefonies uit die Kaap gesê.

Haar emosies skemer deur wanneer sy praat oor haar lewe vóór die aanval.

“Party dae voel dit of ek van my kop af gaan raak. Daar is nog ʼn lang proses wat vir my voorlê. Ek kan nie meer ruik nie, ek word duiselig en is bang. Vroegmiddag al trek ek my gordyne toe en bly net in die huis.

“Ek is bang om iewers heen te ry en terug te kom … ek het bang geword en dink iemand wag my in.”

Coetzee is op 27 November 2022 in haar motorhuis by haar huis op die dorp oorval deur Draai, haar tuinwerker.

Die gebeure wat daarop gevolg het, het sy met die hulp van ander mettertyd ontrafel. Sy het ure ná die aanval, swaar verbind, in die Knysna-hospitaal wakker geword. Coetzee is van Kareedouw oorgeplaas en moes ʼn vier uur lange operasie ondergaan om die wonde aan haar arms en skedel te heg. Sy het vandag nog nie behoorlike gebruik in haar regterhand nie en haar skedel het ook nie weer behoorlik geheg nie.

Ronelle Coetzee, Kareedouw, Oos-Kaap, aanval, vonnis, misdaad, Ivan Draai, Emmanuel November, SAPS

Ronelle Coetzee ná sy in die hospitaal wakker geword het. Sy het wonde aan haar kop en arm gehad waar sy met ‘n skaapskêr en bottel aangerand is. (Foto: Verskaf)

Die laaste wat Coetzee onthou, was dat sy op daardie Saterdag oudergewoonte saam met twee vriendinne koffie op die dorp gaan drink het. Sy het net ná 12:00 tuisgekom en vir Draai gevra om haar te help met die blomme wat sy vir die volgende dag se kerkruikers gekry het.

“Hy het vir my die motorhuis se deur oopgemaak, soos hy altyd doen. Ek het uitgeklim en hom ook gevra hoekom lê sy selfoon en baadjie op die grond; ek het dit amper raakgery.”

Draai het agter haar gestap en sy onthou die harde slag toe ʼn hou haar agter die oor tref.

Bure het haar noodkrete gehoor en die buurtwag ontbied. “Ek het nie eens geweet ek het terugbaklei of geskreeu nie,” vertel Coetzee.

Lede van die dorpswag het Coetzee in die kattebak van haar motor gekry, waar Draai en November haar ingelaai het en steeds besig was om haar in die kop en gesig met ʼn skaapskêr te steek. Om haar nek was ʼn tou waarmee sy gewurg is.

Coetzee onthou hiervan niks, ook nie dat sy self wankelrig na buite gestap het met behulp van die dorpswag-lede nie.

“Al wat my buurvrou onthou, is hoe ek uit die motorhuis gestap het. My hare was vol bloed en my twee oë swart.”

Kapt. Marius McCarthy, Oos-Kaapse polisiewoordvoerder, het by navraag bevestig November is vyf dae ná die aanval in hegtenis geneem. Hy is deur bloed- en vingerafdrukke met die misdaadtoneel verbind. Die ondersoekspan het ook heelwat van Coetzee se gesteelde juwele in sy besit gevind.

Draai is ʼn maand later aangekeer.

Ronelle Coetzee, Kareedouw, Oos-Kaap, aanval, vonnis, misdaad, Ivan Draai, Emmanuel November, SAPS

Emmanuel November en Ivan Draai. (Foto’s: SAPD)

Coetzee was vol lof vir die ondersoekspan wat bestaan het uit ao. Bernard Meyer, ao. Rudi Swanepoel, ao. Jacques le Roux en ao. Gerhard Henning wat tot die twee aanvallers se suksesvolle vonnisoplegging gelei het.

November en Draai het skuld beken op ʼn aanklag van huisbraak, roof met verswarende omstandighede en ontvoering. Hulle is hiervoor onderskeidelik tot vyf, 15 en vyf jaar tronkstraf gevonnis. Die hof het ook gelas dat die vonnisse nie samelopend uitgedien moet word nie.

Coetzee, ʼn troubeplanner, het ná die aanval verhuis en woon deesdae in die Kaap.

“Hulle het my aangeval, uit ʼn gemeenskap waarvoor ek baie lief was en vir wie ek omgegee het. Die trauma op die dorp was vreeslik; so iets het nog nooit op Kareedouw gebeur nie.”

Daarom het sy besluit om nader aan haar kinders te trek en eerder te fokus op haar gesondheid.

“Ek kan die polisie nie genoeg bedank nie. Hulle het so vinnig opgetree. Watter vrou sou volgende gewees het? Ek is dankbaar hulle [Draai en November] is uit die gemeenskap verwyder en ons is nou weer veilig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

JohanR ·

Net een ding as moontlik…..kry hulle voor hulle jou kry. Ek vertrou myself nie met ‘n geweer nie maar ek het vir my ‘n klein TAZER gekoop. Nog nie kaans gehad om hom te gebruik, en om te sien hoe die ou die Rock en Rol doen!

Leeubekkie ·

So jammer oor wat mst jou gebeur het. Mag die Here jou volkome genees, versterk en weer emosioneel heelmaak.

Carel ·

Beste gesindheid. Laat die wraak aan die Here oor. Dit is net HY wat die kriminele op die gepaste manier kan straf

Onnie ·

Wat was hul doel om haar so te verniel? Hulle kon mos net die juwele ens gevat het en laat spaander het voor sy terug was. Die dinge laat my sidder.

JOHN ·

Nou oor sy wit is is daar nie ‘n klag teen hulle vir poging tot moord nie ???????

Mariana ·

Ek glo nie ek sou kon vergewe of vergeet nie. Sulke goed wakker die kwaad in mens aan. Sterkte en voorspoed vir haar.

Billy ·

Vergewe het jy… well done…. nou net een stap verder… vertrou op God en vra Hom en Hy sal jou vrees wegvat… net soos Jesus kon sê… vergeef hulle..,.. en net Hy sal vir jou daai verlossing van vrees gee,. En jou weer herstel.. niemand of niks anders.. net JY kan…. met Sy liefde… maaar dit vra ń onomwonde vertroue. sonder ń sweempie van twyfel….. ń oorgawe…. want nrt Hy kan en sal

Nettie ·

Dis elke keer swaar om sulke stories te lees. Maar ek doen, want dis al hoe genesing kan begin. Wanneer mense kan praat, en hulle gehoor word deur ons wat omgee. En ons vir hulle kan bid.

Mevrou, jy was so braaf en het hard terug baklei, al kan jy nie veel onthou nie. Ons is dankbaar jy leef! Mag God en jou familie jou aanhou dra, tot ons eendag Sy Volle genesing kan ontvang. Sterkte!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.