Gure weer vir Wes- en Oos-Kaapse kusstreke voorspel

Bloot ter illustrasie (Foto: Geoff Caddick/AFP)

Inwoners van die Wes- en Oos-Kaap is vroeg Saterdagoggend gewaarsku oor verwoestende winde dié naweek wat groot skade aan infrastruktuur tot gevolg kan hê.

Hannelee Doubell, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), sê stormsterk wind en ʼn afsny-laagdrukstelsel sal die volgende paar dae tot ʼn lae seevlak lei wat skade aan hawens kan aanrig.

“Dit sal ʼn negatiewe stormdeining langs die suidwestelike tot die suidoostelike kuslyn van Suid-Afrika op plekke tussen Saldanha en Gqeberha tot gevolg hê.”

Sy sê ʼn stormdeining verwys na ʼn abnormale styging van water, bo en behalwe die gewone siklus van getye.

“Dit kan óf positief (positiewe stormdeining) óf negatief (negatiewe stormdeining) wees.

“ʼn Negatiewe stormdeining kom voor wanneer sterk winde langs ʼn kuslyn tot ʼn aansienlike verlaging in watervlakke lei.

“Hoewel ʼn negatiewe stormdeining nie noodwendig die publiek direk raak nie, kan dit vervoer op waterweë ernstig raak en die kuslyninfrastruktuur beïnvloed, wat tot potensiële ekonomiese verliese kan lei.”

Doubell sê die SAWS Wave and Storm Surge (SWaSS)- model toon ʼn negatiewe stormdeining langs die suidwestelike en suidoostelike kus wat van Saterdag tot Maandag sal voortduur.

“Hierdie toestande kan tot ontwrigtings by verskeie hawens lei. Die groot stede en hawens wat geraak sal word strek van Saldanhabaai tot Gqeberha.”

JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, het ʼn beroep op inwoners van die Wes-Kaap gedoen om uiters versigtig te wees, “veral as hulle op die paaie is of in laagliggende gebiede woon”.

Die SAWD het sy waarskuwing vir gure weer dié naweek intussen aangepas.

“Daar is nou ʼn oranje vlak 6- waarskuwing vir ontwrigtende reën vir Saterdag tot Maandag uitgereik, wat moontlik plek-plek oorstromings en skade aan infrastruktuur tot gevolg kan hê.

Daar is ook ʼn  vlak 6-waarskuwing vir uiters winderige toestande, en ʼn vlak 4-waarskuwing vir skadelike golwe uitgereik.

Smith sê die stad se nooddienste is op ʼn hoë gereedheidsgrondslag vir enige moontlike weerverwante voorvalle.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.