Haai, ysige water skrik oudste swemmer nie af

Simon Ince (Foto: Verskaf)

Simon Ince (62) van Kaapstad het ʼn nuwe Guinness Wêreldrekord opgestel nadat hy Sondag 35 km van Simonstad via Valsbaai na Rooi‑Els geswem het. Hy is die oudste persoon om dié afstand af te lê.

Net agt persone kon boonop nog ooit hierdie afstand voltooi. Die vorige persoon wat die rekord vir die oudste swemmer gehou het, was 59 jaar oud.

Ince het die afstand boonop in sowat 10 ure en 42 minute voltooi. Dit is die derde vinnigste tyd waarin dié roete nóg voltooi is.

Ince sê dit was die langste roete en moeilikste uitdaging wat hy in sy lewe aangepak het.

“Ek is baie trots daarop dat ek dit kon doen. Dit het ʼn dag nadat ek die afstand afgelê het, eers regtig ingesink dat ek só ver geswem het,” vertel Ince aan Maroela Media.

Ince moes die eerste 20 km in koue water trotseer, maar die laaste 15 km was die water ietwat warmer. “Die koue water was besonders moeilik, maar toe die water warmer word, kon ek vinniger swem.”

Dié kranige swemmer sê hy het nie ʼn enkele oomblik tydens die roete gedink dat hy dit nié sal voltooi of sal moed opgee nie.

Ince sê die vrees dat ʼn haai moontlik kon kop uitsteek, het hom wel heeltyd bygebly.

“ʼn Rob het vir vyf kilometer saam met my geswem en dit was plesierig, aangesien dit my gedagtes van die uitputtende taak afgevat het.”

Soos ʼn vis in die water

Ince het in Somerset‑Wes grootgeword en swem en duik al van kindsbeen af. Hy het ’n liefde vir swem begin kry ná sy pa byna verdrink het.

Ince was nege jaar oud toe hy moes staan en toekyk hoe sy pa amper in die see by Kogelbaai verdrink het. “Ek het daarna by die lewensredders aangesluit. Ek het besluit dat ek volgende keer nie net sal staan en toekyk nie, maar iemand wil help.”

Van toe af was swem soos asemhaal vir Ince.

Hy het al vele swem-marathonne afgelê. Die verste wat hy al geswem het, was van Bloubergstrand na Robbeneiland toe en terug, wat net meer as 14 km is.

Hy het Augustus verlede jaar besluit dat hy die Valsbaai-roete gaan aanpak.

“Ek het lank gewonder of ek dit wil doen, omdat dit ʼn baie moeilike roete is. My elfjarige seun het my moed ingepraat en gesê as ek dit nie nóú doen nie, ek nooit sal nie.”

Ince het sedertdien elke week 35 km in ʼn swembad afgelê.

“Ek wil ʼn voorbeeld vir ander ouer mense daarbuite wees en vir hulle sê dat ouderdom nie in jou pad moet staan nie. As jou kop reg aangeskroef is, is enigiets moontlik.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.