Halfhartige pleister geplak op rioolprobleem in natuurreservaat

Riool wat in die Steiltes-natuurreservaat gestort word (Foto verskaf)

Rou riool word daagliks onwettig in Mbombela (Nelspruit) se ekologiese juweel, die Steiltes-natuurreservaat, gestort en ná jare se druk deur AfriForum het Silulumanzi, ’n watersuiwering- en afvalwaterdiensverskaffer, sowaar ’n halfhartige pleister op die probleem geplak.

Silulumanzi was vir die afgelope twee jaar bewus van die onwettige storting in die reservaat, maar het nog nie veel gedoen om die probleem die hoof te bied nie. Keelvol dat die gemeenskap se noodroepe vir die hoeveelste keer geïgnoreer is, het AfriForum se Nelspruit-tak Woensdag (21 Februarie) ’n dringende skrywe aan die diensverskaffer gerig. Daarin is geëis dat die probleem dadelik gepak word en dat Silulumanzi ook alles in sy vermoë doen om te keer dat die situasie hom elders in die toekoms herhaal.

Silulumanzi het intussen die rioolpyp met sement gevul, maar Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld, meen dat dit geensins ’n volhoubare oplossing is nie.

“Die rioolpyp is jare gelede deur ’n vorige inwoner geïnstalleer wie se erf gedurig vol riool was omdat dit uit ’n mangat opgestoot het. Hoewel ons dankbaar is dat die riool vir nou nie verder in die reservaat gestort gaan word nie, kan die tydelike seël weer riool elders laat opstoot. Ons is ook bekommerd dat die druk later gaan veroorsaak dat riool weer in die reservaat uitloop,” sê Van Heerden.

AfriForum het ’n dringende beroep op Silulumanzi gedoen om ondersoek in te stel na die oorsprong van die rioolprobleme, dit reg te stel en dan ’n plan te bedink om hierdie probleem in sy spore te stuit. Die burgerregteorganisasie het ook gemaan dat regstappe oorweeg word as die situasie nie eens en vir altyd die hoof gebied word nie.

Die onwettige rioolstorting in Steiltes-natuurreservaat kon op ’n ramp afgespeel het, en dit is steeds onduidelik watter langtermyn skade aangerig is deur die konstante vloei van riool deur die reservaat.

“Die situasie is skokkend en ons sal aanhou om druk op Silulumanzi te plaas om te verseker dat ’n permanente oplossing gevind en antwoorde daaroor verskaf word.”

AfriForum se Nelspruit-tak doen ’n beroep op inwoners om die tak te nader indien hulle soortgelyke rioolprobleme ervaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.