Hangsweeftuig val glo in see

‘n Gemotoriseerde hangsweeftuig het glo in die see by Reebok gestort. (Foto: Twitter / MosselBay Advertiser)

Die lugvaart-soek-en-reddingskoördineringsentrum, Aeronautical Rescue Coordination Centre (ARCC), is tans besig met ʼn soektog na ʼn hangsweeftuig wat Maandagoggend na bewering in die see by Reebok naby Mosselbaai gestort het.

Luidens die ARCC se verklaring is die hangsweeftuig in die lug in die omgewing tussen Klein Brak- en Grootbrakrivier gewaar. Dit het bokant die water gesirkel voordat dit glo in die see gestort het.

André Fraser, stasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) op Mosselbaai, het Maandag aan Maroela Media bevestig dat ʼn inwoner die NSRI omstreeks 06:50 ontbied het. Volgens die inwoner het hy die voorval gesien toe hy by sy huis in Kusweg uitgestap het.

Gregory Critchley, hoof van die ARCC, dui in dié sentrum se verklaring aan dat verskeie nooddiensspanne, onder wie die NSRI-Mosselbaai, polisieduikers, Eden Metro-rampbestuur en -nooddienste, Skymed AMS, MRCC en ʼn private lugtuig, ʼn soektog onderneem het in die gebied waar die hangsweeftuig aanvanklik gewaar is. Die soektog het tot dusver niks opgelewer nie.

“Die soektog duur voort en meer inligting sal bekend gemaak word soos dit beskikbaar is,” het Critchley gesê.

Hou Maroela Media dop vir meer inligting soos die gebeure ontvou.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.