Hanover se ‘Billy Elliot’ op pad na New York

Faahkir Bestman (Foto: Verskaf)

Hanover Park in Kaapstad spog met sy eie Billy Elliot wat vinnig besig is om sy pad na die internasionale verhoog oop te dans.

Faahkir Bestman (19) het Saterdag na New York in Amerika gevlieg, waar hy met ʼn tweedejaarbeurs by die Joffrey-balletskool gaan aansluit.

Dié ontluikende danser glo hy was nog altyd bestem vir iets groters as ʼn toekoms waar hy in bendes en dwelms vasgevang is, soos wat talle jongmense in Hanover Park se lot is. Hy dans al sedert kindsbeen en het met elke tree meer vasbeslote geword om op die groot verhoë oor die hele wêreld heen te dans.

Volgens Zane Groenewald, bemarkingsbestuurder van BackaBuddy, was Bestman agt jaar oud toe Abeedah Medell van die beroemde Eoan-groep hom raakgesien het. Medell het hom die nodige vormende opleiding gegee en ook aangemoedig om sy droom ʼn werklikheid te maak.

Op die ouderdom van 12 jaar het Bestman die eerste Christopher Kindo-beurs gewen waar hy aan die National School of the Arts (NSA) in Johannesburg kon studeer.

Die staalkontrakteur Intocast South Africa het hom geborg en al sy skoolgelde betaal.

“Net voordat Bestman sy matriekeksamen voltooi het, is hy in kennis gestel dat hy ʼn beurs gekry het om by die Joffrey-balletskool te studeer,” sê Groenewald.

Johannesburg Youth Ballet (JYB) het ʼn veldtog op BackaBuddy van stapel gestuur om geld vir Bestman in te samel om bykomende uitgawes – naas die studiegelde – te dek. Hy óf sy gesin is nie in staat om selfs dié uitgawes te dra nie.

Meer as R90 000 van die beoogde R150 000 is reeds ingesamel.

Bestman by die NSA se Dance Spectrum (Foto: Lauge Sorensen)

Geld wat ingesamel word, sal Bestman se visum- en paspoortkoste, sy retoervlugte na New York, sy mediese versekering, klere en danstoerusting, beddegoed en kookgerei vir sy koshuis dek, asook sorg vir ʼn klein bedrag sakgeld.

“Bestman het sy hele lewe aan dans gewy en het hard gewerk om sy droom [om op internasionale verhoë te dans] na te streef en met die hulp van lede van die publiek sal hy nou sy droom kan bewaarheid.”

Mark Hawkins, artistieke direkteur van JYB, sê jy skop nie sommer iemand met Bestman se danstalent agter elke bos uit nie.

“Daar is baie talentvolle jong dansers wat ʼn loopbaan daarvan wil maak, maar dit is dalk een of twee keer in ʼn leeftyd dat iemand met Faahkir Bestman se talent, toewyding en passie jou pad kruis.”

Sanette Wessels from Photo Nette Photography

“Ek voel geëerd en bevoorreg om saam met Faahkir op sy dansreis te kon werk,” sê Hawkins.

“Ek het sy groei as kunstenaar in alle genres van dans gesien. Hy is gretig om te leer en passievol oor alles wat hy doen. Hy is ʼn nederige jong man, met ongelooflike verhoogteenwoordigheid, wat ek weet vir grootsheid bestem is.”

Alle bykomende geldbydraes wat deur die veldtog ingesamel word, sal gebruik word om The Bestman Bursary te stig, wat beoog om ander jong dansers finansieel by te staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Chantel ·

WOW, sterkte met jou danspad, hou jou gesin se naam hoog in NY

Delia ·

Hou jou voete op die aarde. Wees versigtig vir die dwelmkultuur tussen beroemdes. Alle sukses jongman. Make your family proud. Trots SA

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.