Hoe gaan dit régtig met beroepsvroue in SA?

Foto: Pxhere.com

ʼn Onlangse studie onder Suid-Afrikaanse besigheidsvroue wat deur die maatskappy The Human Edge gedoen is, toon dat Suid-Afrikaanse vroue nog groot uitdagings in die werkplek het en dat daar nog heelwat gedoen sal moet word om vrouewerknemers op gelyke voet met hul manlike eweknieë te bring.

The Human Edge is ʼn maatskappy wat spesialiseer in korporatiewe kultuur. Die studie is uitgevoer met ʼn e-posvraelys wat aan meer as 20 000 beroepsvroue landwyd gestuur is.

Volgens Helene Vermaak, besigheidsdirekteur en medestigter van The Human Edge, is daar geen twyfel daaroor nie dat vroue graag leiding wil neem op gebiede waar hulle hulself as kundig beskou, maar dat hulle hulself gereeld in verskeie struikelblokke vasloop.

The Human Edge se studie dui aan dat vroue die volgende vyf kwessies beskou as die grootste hindernisse wat hulle moet oorkom om suksesvol in die werkplek te wees:

  • Vroue moet meer doen om hulself te bewys;
  • Gesins- en familieverantwoordelikhede moet aandag geniet saam met hul loopbaan;
  • Die moederskapfaktor kan tot gevolg hê dat vroue se loopbaanplanne stadiger uitgevoer kan word;
  • Vroue beleef nog baie geslagsdiskriminasie in die werkplek; en
  • Vroue is minder geneig om vir ʼn bevordering of verhoging te vra.

Dis egter nie asof vroue in die werkomgewing nié hul eie loopbaan ernstig opneem nie. Die studie het aangedui dat Suid-Afrikaanse vroue op verskeie maniere verantwoordelikheid neem vir hul eie loopbane:

  • 82% sien hulself reeds as informele leiers in hul organisasies;
  • 87% streef na formele leierskapsgeleenthede;
  • 66% het ʼn loopbaanontwikkelingsplan om groei in hul loopbaan te verseker; en
  • 88% voel gemaklik daarmee om hul eie gesag uit te oefen.

Die vroue wat aan die studie deelgeneem het, het aangetoon dat hulle daagliks te doen kry met verskeie subtiele beledigings van beide hul manlike en vroulike kollegas. Die subtiele beledigings wat die algemeenste voorkom, is die volgende:

  • Vroue ervaar dat hulle meer bewys moet lewer van hul bekwaamheid as hul manlike kollegas;
  • Hulle beleef dat hulle oordeel bevraagteken word op hul gebied van kundigheid;
  • Vroue word meer dikwels in die rede geval wanneer hulle hul mening probeer gee;
  • Hulle word makliker as baasspelerig of aggressief beskou; en
  • Hulle word dikwels aangesien vir iemand in ʼn meer junior posisie.

Die onderwerpe wat beroepsvroue die meeste sukkel om met hul bestuurders aan te roer, is salarisverwante gesprekke, gesprekke oor die neerlê van grense ten opsigte van hul verantwoordelikhede, gesprekke oor kollegas se prestasies (uit vrees dat hulle hul verhouding met ander kan skade berokken), gesprekke oor hul eie prestasie, en gesprekke oor vergoeding en ander voordele wat gelykstaande is aan dié van hul manlike kollegas. Altesaam 55% van die respondente het aangedui dat hulle baie min of geen selfvertroue het om dié kwessies aan te pak.

Sowat 77% van die vroue wat aan die studie deelgeneem het, het genoem dat hulle hierdie moeilike onderwerpe wél aanpak, ten spyte van hul gebrek aan selfvertroue daaroor. Maar ongelukkig het slegs 43% van dié vroue positiewe resultate gesien, soos verbeterde verhoudings en groter invloed in die organisasie, 14% het gesê hul uitgesprokenheid oor moeilike kwessies het gelei tot skade in hul verhouding met ander partye betrokke, terwyl 43% aangedui het dat die aanroer van hierdie moeilike kwessies geen meetbare voordele ingehou het nie.

ʼn Soortgelyke studie deur LeanIn.Org en McKinsey, Women in the Workplace 2018, het aangetoon dat vroue die werkplek steeds as ʼn ongelyke speelveld ervaar, met minder dag-tot-dag-ondersteuning en minder toegang tot senior leiers. Vroue beleef ook meer gereeld teistering en diskriminasie in hul werkomgewing as mans, en voel dikwels of hulle dopgehou word wanneer hulle die enigste vrou in die vertrek is.

“Die uitdagings waarmee beroepsvroue daagliks te doen kry, is ʼn werklikheid,” het Vermaak gesê, en bygevoeg dat dit al die afgelope twintig jaar The Human Edge se strewe is om taboe-onderwerpe in die werkplek lug te gee.

“Oop, eerlike en direkte gesprekke wat met respek vir die ander party aangepak word, is die beste manier om hierdie uitdagings in die werkplek die hoof te bied,” het sy verduidelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Leon ·

Die ongelukkige feit bly, ons is ‘n paternalistiese samelewing. Die vrou het ‘n natuurlike feit wat teen harar tel. Die feit dat sy kan swanger word en kinders kry en grootmaak. In die korporatiewe wêreld is dit ‘n probleem. Sy moet gedurig die ginekoloog besoek en dan moet sy kraamverlof neem en dan ook as die kind siek is na die kind omsien.
Vroue wat nie kinders het nie het ‘n 5% beter kans om verder teen die leer op te gaan.
Dit is baie jammer daar word gediskrimineer. Sommige vroue wil in sekere beroepe ingaan waar mans beter vaar en dan kla hulle. Ek wil nie diskrimineer nie, maar vroue moet versigtig kies in tegniese beroepe. hulle pas nie oral daar in nie.
Ek het vir ‘n paar jaar onder ‘n vrou gewerk as my senior en ek het dit geniet. Ek het dus nie ‘n probleem daarmee nie. As sy die werk kan doen, gee dit vir haar en gee haar ook dieselfde voordele as die man.

Gert Midstream ·

Min lewer kommentaar. By opvoedkundige instellings geld BEE . Bewus van departemente wat drasties afneem in gehalte en die nie erkenning van bo gemiddeld toegeruste kollegas wat herhaaldelik moet “red” Is die volgende tydperk van regstelling ook gekoppel aan swak bestuur;

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.