Hof sê nee vir Jhb-raadsvergadering

Die Johannesburgse middestad. (Foto: Tebogo Iosaba/Unsplash)

Die Johannesburgse hooggeregshof het ʼn stokkie gesteek voor ʼn plan van die metroraad se voorsitter van voorsitters om ʼn buitengewone raadsvergadering te belê.

Raadslid Colleen Makhubele, verbonde aan Cope, het gevra dat die buitengewone vergadering vandag gehou word. Regter Gcina Malindi het Maandagaand in ʼn uitspraak op ʼn dringende aansoek om die vergadering te stuit, egter beslis die kennisgewing is “ongeldig” en die vergadering mag nie voortgaan nie.

Die regter het voorts beslis dat, teenstrydig met dit wat Makhubele en haar bondgenote glo, sy nie die waarnemende speaker is nie en dat sy verbied word om haarself voor te hou as waarnemende speaker óf om enige funksies van ʼn waarnemende speaker te verrig.

ʼn Verklaring van die kantoor van die Johannesburgse burgemeester, dr. Mpho Phalatse, lui dat die stad en die veelparty-koalisieregering van mening is dat die pos van speaker vakant bly tot die stadsbestuurder ʼn sitting van die raad byeenroep en ʼn speaker of waarnemende speaker uit die lede van die huis verkies word.

“Die optrede van raadslid Makhubele en diegene wat haar onwettige optrede steun en finansier, moet ten sterkste veroordeel word. Die optrede het net gepoog om verwarring onder inwoners te saai en die oppergesag van die reg en die reëls van die raad te ondermyn in ʼn poging om die mag ten alle koste te gryp,” lui ʼn verklaring van die burgemeester se kantoor.

Die hof het ook ʼn kostebevel teen Makhuele gemaak en die stad sê daar is minstens troos in die feit dat die geld wat bestee moes word om die “poging tot ʼn korrupsiegreep” te beveg, terugbetaal moet word sodat dit vir dienslewering gebruik kan word.

Bryne Maduka, die waarnemende stadsbestuurder, moet nou ʼn kennisgewing uitreik vir ʼn vergadering waartydens ʼn speaker verkies sal word. Die raad se waarnemende sekretaris, Madimetsa Molekwa, moet intussen die ruimte gegun word om die daaglikse administratiewe en bedryfsfunksies van die stad se wetgewer te hanteer.

“Hoewel dit nooit ideaal is om hierdie sake in die hof te beslis nie, het ons geen keuse gehad as om die howe te vra om oor die kwessie te beslis nie omdat gesonde verstand en ʼn verbintenis tot die demokratiese proses net nie geseëvier het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

SjN ·

Die howe moet vir die onbevoegde kaders besluite neem. viva anc.

Kobus ·

Lyk my die dame van Cope het haar mes in vir die agbare dr. Mpho Phalatse. Nou is dit hofsake, uitsprake moet nou eers bestudeer word en dan weer terug hof toe ens ens. Kan die mense tog asb hulle persoonlke vete’s los en die mense dien soos hulle belowe het?

Pampoen ·

Hulle speel nou eers musical chairs. Sal later dalk werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.