Inwoners in gegoede woonbuurt aangehou

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Andri Tambunan / AFP)

’n Egpaar is Donderdagaand in hul huis in die Steiltes-woonbuurt in Mbombela, Mpumalanga, aangehou en beroof.

Volgens brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, het drie verdagtes omstreeks 18:30 die egpaar se huis betree. Hulle het vuurwapens op die egpaar gerig en die sleutels van hul twee motors, ’n grys Ford Ranger en ʼn Mitsubishi Lancer, geëis.

Volgens inligting het die verdagtes daarna die egpaar vasgebind met kabels en skoenveters. Hulle het elektriese toestelle en ander huishoudelike items in die Mitsubishi Lancer gelaai en laat spaander.

“Die verdagtes het omstreeks 23:00 teruggekeer. Hulle het die Mitsubishi Lancer daar gelaat en in die Ford Ranger gevlug,” bevestig Mohlala.

Die egpaar het daarin geslaag om hulself los te maak en is na die naaste polisiestasie waar hulle ’n saak van huisroof aanhangig gemaak het.

“Nelspruit se blitspatrollie het Vrydag omstreeks 01:00 die Ford Ranger verlate langs die Jerusalem-begraafplaas in Masoyi aangetref. Die voertuig se paneelbord was beskadig.”

Die verdagtes word egter steeds gesoek.

Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met meer inligting wat tot die verdagtes se inhegtenisneming kan lei, om kol. Frank Matome Sithole by 082 556 5428 te kontak of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Christine ·

Dit gaan te lekker in SA vir die misdadiger, doen net wat hulle wil. Criminal’s paradise en basies geen gevolge vir hulle nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.