Inwoners maan teen ‘selektiewe gebruik’ van onteieningswet

(Foto: Maroela Media)

Inwoners van die Joe Gqabi-distrik in die Oos-Kaap het vandeesweek gewaarsku teen die selektiewe inwerkingstelling van die onteieningswetsontwerp waaroor openbare sittings tans gehou word.

Die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare werke en infrastruktuur het vandeesweek die tweede been van sittings afgehandel.

Volgens die komitee het die meeste van diegene wat die sittings bygewoon het, die wetsontwerp gesteun – grootliks omdat dit beskou word as ʼn manier om die ongeregtighede van die verlede reg te stel, terwyl dit ook gelyke toegang tot grond moet bied.

“Inwoners het die gevare wat onbillikheid inhou, uitgelig as ʼn faktor wat die goeie bedoelings van die wetsontwerp kan ondermyn,” lui ʼn verklaring van die komitee.

Opkomende boere het die geleentheid gebruik om hul misnoeë te kenne te gee met ʼn gebrek aan beskikbare grond, veral aan voorheen benadeelde mense in townships en landelike gebiede.

Tradisionele leiers het wel hul steun aan die wetsontwerp gegee.

Volgens die komitee was sekere mense ten gunste van die wetsontwerp, mits die onteiening gaan lei tot verhoogde produksie, voedselsekerheid, werkskepping, die vermindering van armoede en die uitroei van ongelykheid.

Daar was egter ook heelwat klagtes oor die grondhervormingsproses. Van dié klagtes sluit in titelaktes wat steeds nie toegeken word nie en ʼn gebrek aan steun aan ontluikende boere. Die komitee het onderneem om dié klagtes aan die betrokke komitees deur te gee.

Diegene gekant teen die wetsontwerp het dit onder meer as vaag bestempel en gesê dit gaan lei tot disinvestering in die land wat werksgeleenthede in die gedrang gaan bring.

Die komitee se volgende sitting is in die Amathole-distriksmunisipaliteit, waarna die Oos-Kaapse sittings Sondag in die Nelson Mandelabaai-metro afgesluit word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Persheks Adri ·

Sê die mense wat nie eers ‘n hoender aan die lewe kan hou nie! Eet maar die grond, want boer kan hulle beslis nie!

Apartheid het my niks gegee nie jy leer om te werk vir wat jy wil hê klaar. Bekotsingswaardig dis wat dit is!

Aikie ·

Die klomp slimjanne moet in gedagte hou dat onse ANC beoog om die “voog” van al die grond te word in die onteienings proses. Sê dan maar solank koebaai vir jou kaart en transport wat jou alleenreg op jou stukkie grond gee. In die vervolg gaan jy huur betaal vir elke vierkante meter grond wat jy beset en die ANC gaan ryk word op jou hard verdiende geld. Jy gaan betaal “vir altyd.”

annie ·

Tradisionele leiers? Wie is dit? Mense wat hulself verryk het in kamma-magsposisies? Wie het hulle aangestel? Kyk maar net hoe gaan die spulletjie afspeel. En dan, die ewige klagte van gebrekkige steun aan opkomende boere. Binnekort gaan plaasmoorde van swart op swart oorheers oordat die een of ander man of stam meer of beter as ek/ons gekry het. Oei! Die uitdeel van buit is nooit ooit mooi nie want die duiwel soek ook sy pond vleis.

Herpiet ·

Almal kan nie in ‘n ekonomie gelyk wees nie.
Kommunisme poog almal moet ewe veel he
As jy van die produktiewes onregmatig wegvat sal hulle ophou produseer
Almal sal in armoede en hongersnood verval
Klink soos Afrika..

Samuel ·

Kommunisme is ons voorland. Mens kan ook nie CR glo dat hy/ANC gekant is teen die Staat se voogdyskap van grond nie.

jzjz05 ·

Om iets by iemand te af te vat waarvoor hy gewerk en besit het sonder betaaling,is daar net een woord voor, al smeer jy dit met botter en konfyt om dit better te laat lyk bly dit n krimineelle handeling.(STEEL)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.