Jagersfontein: Boere kort waterkrippe, -tenks

‘n Deeglike was vir een van die skape wat in die slik beland het. (Foto: Dennis Louw)

Die breek van ʼn slikdam by Jagersfontein in die Vrystaat het ʼn reuseuitwerking op landbouers in die gebied wat nou veral spook om hul kuddes van water te voorsien.

Vrystaat Landbou (VL) sê boere in die gebied wat die Wolwas- en Kromellenboogspruit as natuurlike veesuiping gebruik het, moet nou water aanry. Die spruit is onbruikbaar weens dik slik nadat die wal van die dam by ʼn myn in die gebied op 11 September meegegee het.

Slik bedek steeds groot stukke landbougrond en ook weiding.

Albertus van Schalkwyk, voorsitter van die plaaslike boerevereniging, sê geraakte boere het aangedui hulle het ʼn onmiddellike behoefte aan waterpype, krippe en watertenks.

Dennis Louw, ʼn boer in die omgewing van die ramp, is een van diegene wat veeverliese aangemeld het.

“Dennis het regtig ʼn behoefte aan veral pille om die lammers te voer gegewe dat ʼn groot area wat vir weiding gebruik is, tans deur die slik bedek word en talle ooie ook dood is.”

‘n Troppie skapie in die Jagersfontein-omgewing wat in die slik beland het. (Foto: Dennis Louw)

VL het intussen R50 000 uit sy rampfonds aan die Jagersfontein-boerevereniging bewillig om te help met onmiddellike noodverligting.

Enigiemand wat ʼn bydrae aan die Jagersfontein-boere wil maak, kan VL se webtuiste besoek, of ʼn e-pos stuur na [email protected] met “Jagersfontein” in die onderwerpveld.

Kyk hier na ‘n video van skape wat skoongeskrop word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lourens CFG ·

Wens ek kon gaan help, maar te vêr vir my, en nie geld vir brandstof nie.

Miskruier ·

Die regering ry water aan vir squatters, hul kan die boere mos help.

SjN ·

Die R20 milj wat deur die myngroep beskikbaar gestel word vorm seker deel van die verlies en die onmiddelike nood tov water vir die diere is n prioriteit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.