Jamaika te sterk vir moedige Proteas in Birmingham

Bongi Msomi, Suid-Afrika se netbalkaptein. (Foto: TeamSA)

Die Protea-netbalspan het hul eerste wedstryd van die Statebondspele in Birmingham met 68 – 49 teen Jamaika verloor.

Die eilandmeisies het veral in die eerste kwart die Proteas onder druk geplaas en hulle was met 18 doele in die kol teenoor Bongi Msomi-hulle se sewe suksesvolle pogings.

Jhaniele Fowler was ’n doring in die Suid-Afrikaners se vlees en die ervare doelspeler van 1,96 m het gesorg dat Jamaika lekker momentum op die telbord geniet het.

Oudergewoonte het die Proteas egter nie gaan lê nie en hulle het in die tweede kwart meer spasie op die aanval geniet, terwyl hul verdediging ook beter gelyk het.

In ’n neutedop – Jamaika was doodeenvoudig net vanaand die sterker span.

Tog is dit duidelik dat Suid-Afrika ervare spelers soos Karla Pretorius en Lenize Potgieter mis en in só ’n vinnige uitkloptoernooi is daar nie veel tyd om introspeksie te doen nie – hulle is juis weer môre teen Barbados op die baan.

Die gewilde Shadine van der Merwe en Khanyisa Chawane het in hul 50ste wedstryd vir die Proteas gespeel.

  • Protea-span vir die wedstryd: Ine-Marí Venter, Lefébre Rademan, Bongi Msomi (kaptein), Izette Griesel, Shadine van der Merwe, Nicola Smith, Phumza Maweni. Plaasvervangers: Elmeré van der Berg, Nicholé Taljaard, Khanyisa Chawane, Tshina Mdau en Zanele Vimbela.
  • Tellings ná elke kwart (Jamaika se telling eerste):

Eerste kwart: 18 – 7

Tweede kwart: 37 – 19

Derde kwart: 54 – 31

Vierde kwart: 68 – 49.

  • Die Proteas speel môre om 14:50 teen Barbados. Die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.