Jarelange werker steel glo R14,7 miljoen by Eskom

Die Arnot-kragstasie. (Foto: Facebook)

’n Jarelange werknemer van Eskom is ná ’n intensiewe ondersoek deur Eskom se forensiese ondersoekers Vrydag in hegtenis geneem in verband met beweerde bedrog van sowat R14,7 miljoen.

Thandeka Innocentia Nkosi is tans ’n werknemer by die Matla-kragstasie buite Kriel in Mpumalanga.

Sy word egter daarvan beskuldig dat sy in 2013 gedurende haar tyd as senior aankoper by die Arnot-kragstasie buite Hendrina met die direkteur van ’n onderneming saamgespan en die sukkelende kragverskaffer in die proses uit sowat R14,7 miljoen bedrieg het.

Kapt. Sekgotodi Dineo Lucy, woordvoerder van die Valke, sê forensiese ondersoekers het aanvanklik ’n saak by die polisie aanhangig gemaak voordat die saak vir verdere ondersoek na die Valke verwys is.

Nkosi is Vrydag in hegtenis geneem en het vir die eerste keer in die landdroshof in Hendrina op aanklagte van diefstal, bedrog en geldwassery verskyn.

Die saak is tot Woensdag uitgestel wanneer Nkosi saam met vier ander in die hof sal verskyn in verband met die beweerde bedrog. Sy bly tot dan in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.