Jenna-Leigh groet eNuus, ‘Die groot ontbyt’

Jenna-Leigh verlaat ‘Die Groot Ontbyt’ en eNuus. (Foto: verskaf)

Jenna-Leigh Bilong sluit twee groot hoofstukke in haar lewe af, en al is sy opgewonde vir dit wat vir haar voorlê, beskryf sy haar afskeid met eNuus en Die groot ontbyt as “bittersoet”.

Dié gewilde nuusleser het vroeër vandeesweek bekendgemaak dat haar paaie met dié twee programme gaan skei. Jenna-Leigh, wie se loopbaan in die uitsaaiwese reeds in haar tienerjare begin het, was sowat twee jaar op Die groot ontbyt se geel bank te siene en het vir langer as ʼn dekade as nuusleser by eNuus gedien.

Sy het Dinsdag 30 April die laaste keer op Die groot ontbyt verskyn en sal haar tyd by eNuus die naweek van 5 Mei afsluit.

“Ek was aanvanklik sterk; ek het gedink dat ek sterk sou wees. Ek wou nie emosioneel raak nie, want ek wou nie hê dat die kykers emosioneel moet raak dat ek weggaan nie,” vertel Jenna-Leigh aan Maroela Media oor haar laaste episode van Die groot ontbyt.

“Toe maak die span vir my ʼn video van die afgelope twee jaar, en dit het my baie emosioneel gemaak. Die afskeid was bittersoet.”

Jenna-Leigh se tyd in die uitsaaiwese is egter nog lank nie verby nie, en sê sy trots dat sy nog nooit in haar lewe ophou werk het in dié bedryf nie.

Sy is tans elke weeksdag tussen 09:00 en 12:00 op eNCA se nuusprogram NewsLink te siene.

Sy is opgewonde oor dié loopbaanskuif, aangesien dit haar liefde vir die uitsaaiwese en joernalistiek gaan verbreed en ontwikkel. Sy het reeds verlede jaar deeltyds by eNCA aangesluit, en toe sy ʼn aanbod kry om die skuif permanent te maak, het sy nie gehuiwer nie.

“Ek wou my eie grense toets. Die 30 minute van eNuus is wonderlik, maar daar is soveel meer aan nuus. Daar is meer gesprekke, ondersoekende joernalistiek, ensovoorts.

“Ek wou graag deel wees daarvan en dieper delf in stories wat mense se lewens raak.”

Jenna-Leigh se uitsaailoopbaan het begin by die gemeenskapsradiostasie ValleiFM in Worcester. Sy werk reeds 15 jaar in die uitsaaiwese en het onder meer haar joernalistieke vaardighede by ʼn gemeenskapskoerant, RSG en SABC2 verbreed.

Haar stem kan tans ook gehoor word op die Christelike radiostasies Radio Kansel en Kaapse Kansel, waar sy veral bekend is vir haar groetwense: “Goedheid en guns”.

(Foto: verskaf)

Jenna-Leigh is getroud met Ed Bilong, ʼn senior pastoor en stigter van Grace Court in Johannesburg. Daar het ook al talle boeke uit haar pen verskyn, insluitend Goedheid en guns, Agter my swirlkous en Church Girl Problems.

Hoewel haar tyd in die Afrikaanse uitsaaiwese vir eers verby is, glo sy haar stem sal binnekort weer in haar moedertaal gehoor kan word.

“Dit is nie die einde van my Afrikaanse loopbaan nie, ek is Afrikaans. Ek dink en droom in Afrikaans.

“Wie weet, die deure draai heeltyd. Ek mag dalk een of ander tyd weer terug wees op Afrikaanse TV.”

Ek sê totsiens vir eNUUS en Die Groot Ontbyt, maar nie vir JOU nie. ???? Baie dankie vir al julle ondersteuning en liefde. Ons vertrou God in die nuwe seisoen. Goedheid en Guns, altyd!! xoxo

Posted by Jenna-Leigh Bilong on Sunday, April 28, 2024

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peach ·

Mag “goedheid en guns” jou volg waarheen jou paaie jou ookal mag lei.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.