Judokampioen kry nege A’s

Marco van der Westhuizen. (Foto: Verskaf)

Marco van der Westhuizen van Midstream Kollege het in sy matriekjaar aan die Statebond-judotoernooi in Gqeberha deelgeneem en ʼn derde plek behaal. Tussendeur het hy boonop genoeg tyd gehad om nege onderskeidings in sy matriekeindeksamen te behaal.

Marco het in 2022 sy swart gordel in judo verwerf. Hy het reeds in gr. 3 met judolesse begin, omdat sy ma wou hê hy moet homself kan verdedig. “Ek hou van judo omdat dit jou sterker maak en jy nuwe vriende daardeur maak.”

Sy grootste uitdaging in matriek was om vir ʼn IT-taak ʼn projek aan te pak. “Die projek moet aan sekere standaarde voldoen, maar die res word aan jou eie kreatiwiteit oorgelaat.” Marco het besluit om ʼn aanlyn inkopie- app te skep. “Dit was baie werk!” vertel hy.

Hy het nie altyd so goed gevaar op skool nie, lag hy. Toe hy eendag goed vaar in ʼn toets nadat hy hard daarvoor geleer het, besef hy: “Ek kan dit doen!” Hy hou toe sommer aan met hard leer en gaan vanjaar rekenaaringenieurswese aan die Universiteit van Pretoria studeer. Hy vertel ook trots dat hy in die Sonop Christelike Tehuis gaan woon.

In 2022 het Marco begin rotsklim saam met vriende. “Dit is eintlik iets wat almal kan doen en daar is vir elke vlak iets wat jy kan klim,” sê hy.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hendrik ·

Veels geluk jongman. Goeie voorbeeld. Sukses kom selde vanself. maar deur disipline, hardwerk en volharding. Jy sal siksesvol wees

Anel ·

Baie geluk, seun. En moennie ophou om Judo te doen nie. Geniet elke oomblik van jou studies en jou sport.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.