Kaapstad wil dispuutproses begin oor afwentel van treindienste

(Foto: Christel Cornelissen)

Die Kaapstad-metro het sy regspan opdrag gegee om ʼn interregeringsdispuut oor die afwenteling van passasierspoormagte en diensstandaarde te verklaar.

Geordin Hill-Lewis, Kaapstadse burgemeester, sê die stad kon tot dusver nie ʼn gesamentlike werkkomitee oor devolusie met die nasionale regering tot stand bring nie. Dié optrede is strydig met pres. Cyril Ramaphosa se opmerkings in die parlement dat daar reeds breedweg beraadslaag is oor die regering se beoogde spoorafwentelingstrategie.

Die president het vandeesweek ook in ʼn vraesessie in die parlement gesê bepaalde korttermyndoelwitte moet teen volgende jaar bereik word, mediumtermyndoelwitte teen 2030 en langtermyndoelwitte teen 2050. “Die ontwikkeling van die devolusiestrategie is een van die korttermyningrypings wat teen volgende jaar afgehandel moet word.”

Die witskrif doen ook sleutelaankondigings oor die toekoms van stedelike spoorvervoer in Suid-Afrika, het die president gesê.

Ramaphosa het vroeër onderneem om terugvoer te gee oor Kaapstad se versoek vir ʼn werkkomitee – en dit is ook aan die huidige en vorige minister van vervoer gerig – maar sonder sukses, sê Hill-Lewis.

“In die parlement sê die president ‘viva la cooperation’, maar ons ervaring is presies die teenoorgestelde. Ons is inteendeel verras deur die president se bewering van konsultasies wat plaasvind oor ʼn nasionale devolusiestrategie. As ʼn leierstad wat gereed maak om spoorvervoer oor te neem, is ons in die duister oor die beweerde beraadslaging met ʼn breë groep belanghebbendes; dit sluit in vervoerowerhede, waarvan ons ook een is,” sê die burgemeester.

Prasa het boonop geweier om ʼn diensvlakooreenkoms te onderteken oor teikens om spoordienste te verbeter. Die ooreenkoms vorm die grondslag vir afwenteling en is ʼn wetlike vereiste. “Sonder hierdie belangrike maatreëls, vrees ons dat die afwenteling van passasierspoorvervoer nog jare lank gaan sloer,” sê Hill-Lewis.

“Dit is onaanvaarbaar vir ons en vir die miljoen pendelaars namens wie ons veg.”

Volgens Hill-Lewis is die regering se tydlyne ook vaag en dat Kaapstad afwenteling van dié dienste – en treine wat werk – so gou moontlik nodig het.

In hierdie stadium gebruik net 2% van pendelaars in Kaapstad spoorvervoer en die stad se navorsing wys dat laerinkomstegesinne in die stad jaarliks gesamentlik R932 miljoen kan bespaar mits die treine behoorlik loop.

“Om hierdie redes gee ons nou ons regspan opdrag om ʼn interregeringsdispuut-mediasieproses van stapel te stuur. Ingevolge art. 42 van die Wet op die Raamwerk vir Interregeringsbetrekkinge, moet ʼn mediasiekomitee ‘spoedig’ byeengeroep word om die bepalings van die dispuut neer te lê,” sê Hill-Lewis.

Die stad se deurlopende studie oor die lewensvatbaarheid van spoorvervoer, wat daarop gemik is om die pad na spoorafwenteling uit te stippel, het tot dusver gevind dat ʼn funksionele spoorwegstelsel meer as 51 000 werksgeleenthede kan ondersteun en jaarliks R11 miljard by die plaaslike ekonomie kan voeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Harley Davidson ·

Die hele weskaap moet afstig hoekom tydmors met afwenteling van verskillende departemente ,as die DA koalisi nie die verkiesing wen nie wat bly oor.

Manie ·

Hulle vermors kosbare tyd met die illusie van nasionale regerende party. Teen die tyd dat hulle die skok verwerk het, kan dit te laat wees om af te stig.

annie ·

Die DA stel nie meer baie belang in die res van die land nie. Vandat die idee oor afstigting die rondte doen, klou Zille et al aan die Kaap, te bang Afrikaners sal na 350 jaar uiteindelik daar wen.

Manie ·

Verkeerd, hulle stel nie belang in die Wes-Kaap se afstigting nie. Hulle verkeer onder die indruk dat hulle die land gaan regeer na volgende jaar se verkiesing.

Marthinus Johannes ·

CR en sy maatjies het Groot vingers in die Taxi bedryf asook swaar voertuig vervoer. Sal Baie geld verloor as spoorvrag en passesiers treine terug gebring word.

Amelia ·

nee wat hul nie gepla oor die mense nie dink anc weet as weskaap weg ordentlike spoorwegstelsel in plek het sl hul baie stmme verloor want dan sal die mense vir da stem

Kokerboom ·

Leuse van ANC moet lees: ” By the people, against the people”!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.