Kaapstadse brand: Honderde hektaar geraak

Brandbestryders van Working on Fire spook in die Duiwelspiek-omgewing teen die vlamme. (Foto: Working on Fire/Twitter)

Tussen 500 en 600 hektaar word geraak deur die brand wat sedert Sondagoggend in die Tafelberg-omgewing in Kaapstad woed.

Philip Prins, brandbestuurder by SANParke se Tafelberg Nasionale Park, het Maandagmiddag gesê die brande is in hierdie stadium tussen 70% en 80% in bedwang. Die meeste hulpbronne is vanoggend in die stadskom en die omgewing van Vredehoek ontplooi, maar die brand daar het hom intussen grootliks uitgewoed.

Die brand wat bo Tafelbergweg woed, is egter steeds ʼn bron van kommer en talle brandbestryders werk steeds in die gebied.

Nog ʼn brand woed ook in die omgewing van Duiwelspiek. Dit beweeg in hierdie stadium terug in die rigting waar dit gisteroggend ontstaan het, sê Prins.

Hy sê hoewel dit vandag koeler was, het ʼn sterk suidooster beteken lugsteun kon nie ingespan word om die brande te help bestry nie. Indien die wind oornag gaan lê, sal die brande Dinsdag ook uit die lug bestry kan word.

“Ons hoop die wind gaan lê, want dit is in hierdie stadium ons grootste vyand.”

Die foto is Sondag geneem. (Foto: Working on Fire/Twitter)

Volgens Prins gaan dit waarskynlik die res van die week duur voor die brande heeltemal geblus is, maar dat die vlamme hopelik vroeër minstens in bedwang gebring kan word.

Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, het ʼn kort ruk gelede na ʼn besoek aan die Universiteit van Kaapstad (UK) gesê die stad se inwoners het ongelooflik op die ramp gereageer. Mense het op strepe voorraad vir nooddienswerkers aangedra, terwyl verskeie ander hul huise vir studente van die UK wat hul koshuise moes verlaat, oopgemaak het.

Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, by ‘n mediakonferensie oor die stand van sake. (Foto: Facebook)

“Ek is so jammer om die skade te sien, maar dit kon erger gewees het. Nou is die kans om te herbou,” het Winde gesê.

Die visekanselier van die UK, prof. Mamokgethi Phakeng, het ook haar dank aan die provinsie en die inwoners van Kaapstad oorgedra wat sonder om te huiwer ingespring het om te help.

“Ons is natuurlik platgeslaan deur die verlies aan ons spesiale versameling in die biblioteek. Dit is moeilik om dit in as te sien, maar ons sal weer opstaan.

“Ons sal herstel en ons sal sterker wees. Ons gaan fokus op die silwer rand in hierdie krisis,” sê Phakeng.

Sy sê dit is in hierdie stadium nog moeilik om te sê presies wat die omvang van die skade aan die geboue – en veral die biblioteek – is. Gedeeltes van die versameling was wel in digitale formaat.

Royston Pillay, registrateur van die UK, het intussen gesê terwyl die grootste prioriteit Sondag was om te verseker menselewens is nie in gevaar nie, is daar vandag met ʼn skadebepalingsproses begin.

“Ons moet die bedrywighede weer aan die gang kry, maar ons moet dit veilig en op ʼn verantwoordelike manier doen. Dit word as ʼn saak van dringendheid bespreek,” sê Pillay.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ovelia ·

Ook op plaas gebly. Dan kry jt mense wt vir kms ry en aan di brand steek. Helikopter kon hul sien

Excalibur ·

Onverskoonbaar!! Beskadig Suid Afrika se Fauna & Flora hetsy moedswillig of per abuis deur nalatigheid grens aan terrorisme en sabotasie. Geen huidige strafmaatreel kan daarvoor vergoed nie. Verskroei is die aarde, plante uitgewis, organismes pynend verkool en eiendom beskadig/vernietig hetsy historiese of privaat waarde. Nee-wat, die skuldige/s lewenslank gemeenskapdiens op deur hom/haar onder staatswet/dwang te laat dien as ‘n permanente werker onder korrektiewe toesigbeheer by ‘n brandweerstasie en/of brandbestrydings organisasie waar hy/sy in die voorste linie kan dien en die gevaar en vernietiging in die oog kan staar en beveg. So sal dit hul leer wat hul dade tot gevolg het en ook dien as ‘n afskrikmiddel vir die nageslag om te liefs te waardeer en te bewaar aan ‘n pragtige land vir almal wat daarin woon.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.