‘Kaders’ se aanstelling by munisipaliteit onregmatig

(Argieffoto: pixabay)

Die DA eis die afdanking van sewe werkers van die Dawid Kruiper-munisipaliteit in die Noord-Kaap nadat die arbeidshof verlede week bevind het hul aanstellings en bevorderings moet ter syde gestel word.

Die plaaslike owerheid bedien die Upington-omgewing.

Die Munisipale en Geaffilieerde Vakbond het die hof oor die werkers se posisies genader en gevra dat hul onderskeie aanstellings of bevorderings ter syde gestel word omdat die munisipaliteit versuim het om die poste te adverteer, ʼn kortlys daarvoor op te stel of onderhoude te doen oor die betrokke poste.

Die munisipaliteit het vroeër al toegegee die aanstellings was onregmatig.

Die arbeidshof het nou bevestig dat die aanstellings en poste op die munisipaliteit se organogram, wat in Mei 2017 in werking getree het, onregmatig was. Die hof het ook bevind daar was egter geen aanduiding in die hofstukke dat die betrokke werkers self by enige onregmatige optrede betrokke was en dat die aanstellings die gevolg van ander se optrede was nie.

Hy het die munisipaliteit beveel om mense in die poste – wat vantevore deur die sewe werkers beklee is – aan te stel wat voldoen aan die voorgeskrewe vereistes daarvoor.

Die DA sê in ʼn munisipaliteit wat só erg deur onreëlmatige aanstellings geteister word, beskou die party die hofuitspraak “as ʼn spyker in die doodskis van kaderontplooiing wat daartoe gelei het dat die ANC regulasies verontagsaam het om aan te stel wie hy wil, sonder inagneming van behoorlike prosesse, en teen ʼn direkte koste aan dienslewering en puik finansiële bestuur”.

Die DA sê hy sit sy stryd teen kaderontplooiing voort en veg om hom te beywer vir die aanstelling van geskikte mense by die Dawid Kruiper-munisipaliteit.

“Ons wag ook gretig op die uitslag van nog ʼn saak wat ondersoek word, waarvolgens daar bevind is dat die Dawid Kruiper-munisipaliteit menslike hulpbronprosesse verontagsaam het met die aanstelling van drie voormalige ANC-raadslede.

“Hiermee sal ons voortgaan om ʼn sterk verdediging op te bou teen die vernietigende beleid van kaderontplooiing.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Strandloper ·

Glo nie n mens moet n rocket scientist wees om dit uit te figure nie. Hul dade se dit alles

miraclealigner ·

Hoekom moet die howe se tyd en ons geld konstant gemors word vir iets wat die hele tyd uitgelig word en ons almal wéét onwettig is?!

Adele ·

O genade DA julle het nou ‘n nes oopgemaak, want daar is verseker in elke munisipaliteit baie van hierdie aanstellings.

Herman L ·

Wat gebeur nou met die amptenare wat die aanstellings goedgekeur het? Gaan hulle nou bevorder word en ‘n groot bonus kry?

SomeOne ·

die reg gering van ons is van bo af, alles onwettig want alles het gegaan oor boeties en sussies

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.