Kanker gediagnoseer danksy perdebysteek

Kahmiela August (regs) saam met haar man en dogter (Foto: Verskaf)

Was dit nie vir ’n bysteek nie, sou die 45-jarige Kahmiela August van Monte Vista, Kaapstad, nooit vasgestel het dat sy eintlik borskanker onder lede het en gevolglik betyds met behandeling kon begin nie.

Nou, byna ʼn jaar nadat sy die dokter oor die bysteek besoek het, is daar geen teken meer van kanker in haar liggaam nie.

“Kort ná ʼn perdeby my verlede jaar in my motor gesteek het, het ek knoppe op my bors opgemerk,” vertel August in ʼn verklaring wat deur Netcare N1 City Hospital uitgereik is. Ná ʼn week het die knoppe verdwyn. Sy het egter steeds die dokter gaan spreek om ʼn antihistamienvoorskrif te kry.

August het egter nie verwag dat ʼn vinnige draai by die dokter op talle toetse sou uitdraai nie. Die dokter wou die knoppe ondersoek en het haar op 6 April – op August se 46ste verjaarsdag – met tussen fase 2- en 3-borskanker gediagnoseer.

Die vreesaanjaende “k-woord”

Dié 45-jarige vrou en ma was gesond, sy en haar gesin het pas na ʼn nuwe huis getrek en sy het by ʼn nuwe werk begin. In haar gedagtes was dit die beste tyd in haar lewe. Die gedagte van ʼn moontlike kankerdiagnose het nooit by haar opgekom nie.

“Ek het oorweldig gevoel toe die dokter die nuus aan my oorgedra het. Ek onthou die dokter het met my gepraat, maar ek het niks ingeneem nie. Die woord ‘kanker’ het egter heeltyd by my gebly.”

Volgens die dokter het die kanker reeds na August se limfkliere versprei, maar nog nie na enige ander dele van haar liggaam nie.

“Ses maande van behandeling het soos ʼn berg voor my gelê – eers was daar die chemoterapie, gevolg deur chirurgie en bestralingsterapie.”

Volgens August het die onkoloog, dr. John Sauer, by die Netcare N1 City-hospitaal en sy personeel haar gerusgestel met die wete dat sy in goeie hande is.

“Die deernis van die dokter en personeel het my kankerreis draaglik gemaak.”

August sê die eerste chemoterapiesessie was rof. Sy was daarna vyf dae lank met sepsis in die hospitaal.

Volgens August het sy in die hospitaal besef dat kanker nou deel van haar lewe geword het.

“Die paniek in die stemme van my kinders, my familie en my vriende, asook die vrees in my man se oë het my laat regop sit en dink. Ek kon nie aangaan asof kanker net ʼn bietjie ongerief was wat ek met humor en irritasie kon wegwaai nie. Ter wille van my geliefdes moes ek my ten volle daaraan toewy om hierdie stryd te veg.” Só het haar oorlewingsreis begin.

ʼn Positiewe uitkyk

Sy was vasbeslote om niemand, insluitend haarself, in vrees te laat leef of haar gesinslewe te ontwrig nie, ter wille van haar man en kinders.

“Ek het elke oggend met ʼn glimlag opgestaan, my man en kinders se skaftins gepak en ontbyt gemaak. Ek het gehelp met huiswerk, aandete gemaak en kos gaan koop.”

Sy sê om in die roetine te bly was geestelik goed vir almal. Dit het haar ook besig gehou sodat haar gedagtes nie na die negatiewe draai nie.

August het ook ʼn lysie van “silwer randjies” begin maak en sy het haar gereeld daaraan herinner dat sy nie in beheer is nie en haar vertroue in die dokters moet stel.

“Soms het ek in my donkerste oomblikke ook gunstelingliedjies in my kop gesing of tot 300 getel. Dit het my aandag afgetrek.”

August het na ʼn Facebook Kansa-groep uitgereik waar sy haar kankerreis met ander kankerpasiënte gedeel het.

Oorwinning

August se laaste reeks toetse het gewys dat daar geen teken meer van kanker is nie. Sy het ter viering hiervan – en haar 47ste verjaarsdag wat om die draai is – saam met haar gesin in Franschhoek op ʼn tweewiel-bromponie gereis.

Sy is ook terug by die werk, sy oefen weer en haar lewe het tot groot mate weer tot bestendigheid teruggekeer.

“God seën daardie by wat my lewe gered het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Di ·

Dis weereens ‘n bewys dat daar ‘n doel met als in die lewe is. So bly dat sy nou genees is van die kanker, kon so ander uitgedraai het

Samuel ·

Wonderlike nuus. Weereens ‘n bewys van die goedheid van God.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.