ʼn Vermeende kaper is Sondag in ʼn skietery met die polisie in KwaZulu-Natal doodgeskiet en twee mense is in hegtenis geneem.
Kapt. Nqobile Gwala, polisiewoordvoerder, het gesê die Newlands East-polisie het omstreeks 17:40 saam met lede van ʼn veiligheidsmaatskappy inligting opgevolg nadat ʼn bakkie vroeër die dag in die KwaDabeka-omgewing, noordwes van Durban, gekaap is.
“Die lede het ʼn bakkie wat die gekaapte voertuig se beskrywing pas in Inandaweg opgemerk en dit agternagesit,” het Gwala gesê. “Die insittendes het uit die bewegende bakkie op die polisie losgebrand en die polisie het teruggeskiet en ʼn 27-jarige verdagte noodlottig gewond.”
Die bakkie het teen betonversperrings langs die Dumisani Makhaye-snelweg gebots en tot stilstand gekom.
Twee verdagtes, onderskeidelik 21 en 34 jaar oud is tydens die botsing beseer. Hulle is in hegtenis geneem en onder polisiebewaking na ʼn hospitaal geneem.
ʼn Ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie is langs die oorledene se liggaam gevind. Die polisie het daarop beslag gelê.
Die Newlands East-polisie ondersoek ʼn kapingsaak, poging tot moord en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie. Die polisie doen ook ʼn geregtelike doodsondersoek.
Die twee verdagtes is reeds uit die hospitaal ontslaan en sal na verwagting Dinsdag in die Ntuzuma-landdroshof verskyn.
Polisie moet kan byt.
Dis lekker om goeie nuus ook te lees!Goed gedaan SAP!
Mooi so SAPD goeie werk hoop jul kry a bonus hiervoor
Verstaan ek reg; is twee persone wat bereid is om moord (op polisie) te pleeg vrygelaat?
Jy is die enigste wat dìt gelees het. Dit staan nie so geskryf waar ons lees nie.
Kolskoot!