Karel Landman: Ode aan ʼn groot held  

Die Karel Landman-monument is by die VTM onthul

Die Voortrekkermonument (VTM) het op Geloftedag as deel van sy Gelofteweekviering, ʼn nuwe beeld van een van die grootste leiers in die Afrikanergeskiedenis, Karel Landman, in die Historiese Trekroetetuin onthul.

Op 16 Desember 1938, honderd jaar ná die Slag van Bloedrivier, is die hoeksteen gelê vir die Karel Landman-monument en nou het die VTM in samewerking met die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) weer hulde gebring aan die legendariese Landman deur ʼn verkleinde replika van die bekende monument in die Trekroetetuin op te rig.

Volgens Marie Greyvenstein, wat al vir jare betrokke is by die Karel Landman-monument, is Landman een van die minder bekende leiers in ons geskiedenis. Tog vertel sy, het hy een van die grootste bydrae gelewer as tweede in bevel onder Andries Pretorius by die Slag van Bloedrivier.

Die onthulling van die Karel Landman-monumentreplika is op ʼn letterlike hoë noot ingelei met die sing van die “Landman-lied”, wat ook deur Greyvenstein geskryf is en so kry, soos sy dit sou beskryf, ʼn “unsung hero” uiteindelik sy lied.

Riana Heyneke, voorsitter van die Karel Landman-monument, het saam met Greyvenstein van Port Elizabeth gereis om die spesiale onthulling by te woon.

Barry Mϋller, die FAK se kultuurkoördineerder wat betrokke was by die projek, het vertel dat Greyvenstein vroeër vanjaar die FAK genader het met lirieke vir ʼn nuwe lied oor Landman, waarin sy storie vertel word en sy nalatenskap gevier word, en op 16 Desember is dié lied vir die eerste keer gesing tydens die onthullingseremonie.

“Toe die FAK die lied hoor het ons dadelik besef ons moet iets daarmee doen,” het Mϋller verduidelik. “Gisela de Villiers het toe die lied getoonset en vandag is ons trots om te kan sê ons was deel hiervan. Landman was ʼn groot legende en met hierdie lied kan ons weer sy nalatenskap vier en hom die eer gee wat hom toekom. Ons is besonder dankbaar dat ons saam met Heyneke, Greyvenstein en De Villiers hulde kan bring aan een van ons grootste helde met hierdie ode aan Landman.”

Drie generasies Landmans was teenwoordig

Die beeldhouer Jaco van Niekerk, wat die meeste van die beelde in die Voortrekkermonument se Trekroetetuin gemaak het, het op sy beurt gesê hy is baie bly om deel te kon hê aan die besonderse geleentheid.

“Dit is altyd ʼn eer om een van my beelde by die VTM te onthul, tog voel vandag ekstra spesiaal omdat ek saam met die skrywers van die ‘Landman-lied’, die FAK en die Voortrekkermonument die geleentheid het om die nuwe hoofstuk van Afrikanergeskiedenis te skryf; een waar ons die mooi vat van ons verlede en ons toekoms daarop bou.”

Die spesiale geselligheid is ook bygewoon deur Landman se afstammelinge wat volgens Mϋller dié geleentheid net nog meer spesiaal gemaak het.

“Om meer as drie generasies van verskeie kante van Landman se familie bymekaar te kan hê, is besonder spesiaal. Daar is soveel verhale uit ons geskiedenis wat verlore en vergete is, soos die lirieke van die ‘Landman-lied’ verduidelik, maar hier sien ons hoe oud en jonk steeds saamstaan om ons geskiedenis te laat voortleef.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.