Katgriep: Klein virus, groot verlies

(Foto: Pixabay)

Die parvovirus, wat direk na “kleinvirus” vertaal kan word en oraloor beter bekend as katgriep is, is reg oor Suid-Afrika in omloop.

Hoe klein die virus ook al, word groot verlies en hartseer deur dié siekte veroorsaak.

Dr. René Smit van Lyttelton Dierekliniek het met Maroela Media gesels oor die ongewone uitbreking van die katgriepvirus dié tyd van die jaar.

“Dit is ʼn vreemde uitbreking” sê sy. “Die parvovirus is veronderstel om in die somerweer kop uit te steek, nie nou in hierdie koue weer net voor winter nie.”

Katgriep is ʼn hoogs aansteeklike virus wat honde (veral jonger as ses maande) aantas. Dit is uiters aggressief en tas die maagdermkanaal aan.

“Dit veroorsaak braking en bloederige diarree wat tot ontwatering, hipotermie, toksemie en uiteindelik die dood kan lei.”

(Foto: Pixabay)

Katgriep is ʼn baie wrede siekte en dit is amper ʼn onmoontlike taak om dit onder beheer te kry as dit eers in die omtrek is.

“Behandeling is duur en slegs ondersteunend, aangesien niks die virus self kan doodmaak binne die liggaam nie,” sê Smit. “Baie honde oorleef tog met behandeling, maar nie almal nie – sekere honderasse soos Rottweilers en Dobermanns is veral vatbaar vir die virus en honde wat geen inentings gehad het nie, is beslis dié wat die swakste oorlewingskans het.”

“Die virus kan tot ʼn jaar lank op ons grasperke en ander oppervlakke oorleef; mense moet regtig versigtig wees,” sê Smit. “Met die regte inenting kan die siekte tot groot mate gestuit word.”

Kyk uit vir dié simptome:

  • Naarheid
  • Anoreksie of vermaering
  • Bloed in die stoelgang
  • Ontwatering
  • Lusteloosheid
  • Neerslaan (stuiptrekkings of ineenstort)

Indien daar ʼn hondjie op die erf was wat aan dié ernstige siekte dood is, moet jy probeer om alle soliede oppervlakke met ʼn sterk ontsmettingsmiddel soos F10 te ontsmet. Moet in geen omstandighede weer ʼn hondjie wat nie minstens twee inentings gehad het op die werf bring nie. Die virus is hardnekkig en kan baie lank in die omgewing oorleef.

(Foto: Pixabay)

“Dit is uiters belangrik om jou hond te laat inent, sodoende kan jy ʼn waardevolle bydrae lewer om die siekte te beveg.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.