Kenners gaan help met haaie by Plet

Die hulp van kenners sal ingeroep word om strande by Plettenbergbaai te help beveilig. Twee mense is die afgelope drie maande in haai-voorvalle dood. (Foto: Facebook)

Lede van die Plett-haaiaksiegroep (PSAG) sal vandeesweek met kenners van Kaapstad vergader om meer inligting te kry oor wat in ander gebiede gedoen word om haai-aanvalle te voorkom.

Dave Swart, burgemeester van die Bitou-munisipaliteit, sê seeaktiwiteite is ʼn groot gedeelte van die lewe van Plettenbergbaai se inwoners en besoekers. Ná die noodlottige haai-aanval einde verlede maand, is begin met besprekings om bewustheid te verhoog en ʼn vroeë waarskuwingstelsel oor haaibedrywighede op die been te bring om die water so ver moontlik vir mense te probeer beveilig.

Twee grootwithaai-aanvalle is die afgelope drie maande op Plettenbergbaai aangemeld. In die mees onlangse voorval is Kimon Bisogno (39) naby die Sentraalstrand in ʼn haai-aanval dood, terwyl Bruce Wolov einde Junie dood is nadat hy by die Sanctuary-strand deur ʼn haai aangeval is.

Die Bitou-munisipaliteit het in Mei vanjaar ʼn versoek gekry vir toestemming vir ʼn proeflopie om ʼn haai-afweringstelsel in die gebied te toets. Dit behels ʼn magnetiese versperring wat nie tot die verstrengeling van seelewe of bote se enjins lei nie.

Die munisipaliteit moes sy steun gee sodat navorsingspermitte van die departement van bosbou, visserye en omgewing bekom kon word en private finansiering van sowat R30 miljoen vir die navorsing ingesamel kon word. Die munisipaliteit het aan die einde van Mei sy goedkeuring gegee.

Ná die jongste aanval is die PSAG op die been gebring. Lede sluit onder meer die burgemeester, strandbestuurder, Plett-toerisme, besorgde sakelui en navorsers in.

Die groep het reeds vergader en het onderneem dat lewensredders die afgelope naweek al met hul pligte sal begin. Verbeterde uithangborde wat verskillende oseaangevare uitstippel, sal aangebring word en ʼn stelsel – wat kameras insluit – sal gebruik word om op die uitkyk vir haaie te wees.

Hommeltuie en jetski’s sal gebruik word om haaie se bewegings dop te hou en ʼn app om enige haaibedrywighede aan te meld, sal op die been gebring word.

Swart sê benewens die lewensredders wat die munisipaliteit vroeër as gewoonlik ontplooi het, is finansiering ook verseker om toerusting soos verkykers, hommeltuie en Wi‑Fi te betaal.

Die eerste borde sal teen die middel van Oktober opgesit word en haaiwaarnemers sal aangestel en opgelei word.

Die aksiegroep sal ook by die Kaapstadse kenners raad kry oor hoe om die see veilig vir strandgangers te help maak.

“Die bewaring en beskerming van ons grootste bates – die oseaan, waterweë, woude, landmerke en wildlewe op Plettenbergbaai – lewer ʼn beduidende ekologiese en ekonomiese bydrae tot die dorp. Haaie, walvisse, dolfyne en ander mariene lewe lê dwarsdeur die jaar besoek af; en meer gereeld in die wintermaande tussen Mei en Oktober,” sê Swart.

“Ons moedig inwoners en besoekers aan om ten alle tye bewus te wees van seeveiligheid en kennis te neem van ons veiligheidsmaatreëls en die wildlewe wat ons strande besoek.”

Strande bly oop vir alle bedrywighede, maar die plaaslike owerheid waarsku dit kan vir kort tydperke as voorsorgmaatreël vir swemmers gesluit word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

marius ·

Haaie word gevoer vir die mens se gierigheid om geld te maak . Gaan ondersoek dit gerus.

Burgermeester ·

Los die haaie uit, dit is hulle natuurlike habitat.

Plaaskind ·

Ek stem, daarom het die Skepper ons gesonde verstand gegee om te weet waar en waar om nie te swem nie, maar ai ja, die mensDOM.

domheks ·

Ander lande se skepe vang AL ons vis, haaie soek net kos! Dit is hulle leefruimte.

Martin ·

Daar is ‘n eko-vriendelike magnetiese SharkSafe barrier beskikbaar in SA wat die swemmers sal beskerm teen haai aanvalle. Die navorsing en toetse is voltooi met baie sukses. Ek stel voor installeer ‘n 1000m barrier by Plet se hoofstrand. Die barrier het geen impak op die oppervlakte vir bote en kayakke nie en die see diere se habitat word nie negatief beinvloed nie.

Plaaskind ·

Elkeen wat in die see swem, weet daar is haaie wat vleis eet, en dat jy hulle habitat binne gaan. Dus swem elkeen op eie risiko in die see(wat die haaie se geregtigde woonplek is). As jy nie deur ‘n haai opgevreet wil word nie, gaan swem in ‘n swembad, dam of rivier. Mense is onverantwoordelik dat moet die haaie gestraf word. MensDOM dink asb vir julle self voordat jy in die see gaan swem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.