Kiesers sê ‘nee’ vir ANC-koalisie – ActionSA

(Foto: Reint Dykema)

Kiesers wat deelgeneem het aan ActionSA se opname oor ʼn hersiening van die party se benadering tot koalisies, het dawerend nee gesê vir enige samewerking met die ANC. Hulle is egter ook nie té gretig vir samewerking met die DA nie.

“Voortspruitend uit hierdie mandaat het ActionSA onderneem dat gesprekke met die ANC gestaak sal word,” sê Michael Beaumont, nasionale voorsitter van ActionSA.

Die opname om mense se gevoel oor koalisies te toets, is op digitale platforms gedoen en het binne dae meer as 30 000 reaksies gelok.

Die opname het bevind dat 61% van die Suid-Afrikaners wat deelgeneem het nie glo dat koalisies werk vir die inwoners wat dit veronderstel is om te dien nie, en net 27% het ʼn positiewe gevoel jeens koalisies gehad. Ten spyte hiervan glo 84% van die respondente tog dat ActionSA steeds koalisies moet aangaan, ʼn aanduiding dat Suid-Afrikaners aanhou glo dat dié soort regering kan werk.

Die algemeenste rede waarom respondente aanvoer ʼn koalisie aangegaan moet word, is ʼn kombinasie van dienslewering, gemeenskaplike waardes, regering ten gunste van armes en stabiliteit.

“Altesame 41% van die respondente het die behoefte om die ANC te ontsetel as die rede aangevoer om koalisies aan te gaan, hoewel baie respondente dit sien as ʼn nodige aanloop tot dienslewering,” sê Beaumont.

Volgens die opname is die drie politieke partye bo-aan die lys vir moontlike koalisies die IVP, die ACDP en die VF Plus. Wanneer dit vergelyk word met navorsing wat 11 maande gelede gedoen is, het die gunstigheid van die DA as koalisievennoot afgeneem en lê die party nou in die vyfde plek.

“Hieruit is dit duidelik dat die meeste Suid-Afrikaners wat ʼn politieke alternatief soek, enige ooreenkoms wat die ANC aan bewind plaas of hou, sterk teenstaan.”

Beaumont sê ActionSA se senaat het dus eenparig besluit om enige oorweging van ʼn koalisie met die ANC op te skort.

ActionSA sê sy peiling wys ook dat meer mense bekommerd is oor die DA as koalisievennoot en Herman Mashaba, president van die party, het aan sy eweknie by die DA geskryf om ʼn vergadering te belê om hierdie kommer te bespreek.

Suid-Afrikaners het dit in die opname ook duidelik gemaak dat hulle ongelukkig is wanneer partye met mekaar stry kry en op mekaar konsentreer, eerder as om op pogings te fokus om oplossings vir die land se probleme te vind.

Respondente het ook aangedui dat hulle verkies dat posisies op grond van die meriete van kandidate gevul moet word, eerder as bloot op grond van politieke affiliasie.

ActionSA sê hy is ʼn party wat gegrond is op die wense van Suid-Afrikaners en baie mense is bekommerd oor koalisiebesluite wat geneem word sonder die inset van die inwoners wat dit veronderstel is om te dien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kobus ·

O aarde , nou het agbare Mashaba ‘n probleem. Vertrou hom niks!

Danie ·

Kom die verkiesing dan sal daar weer vir dieANcash gestem word kyk maar net wat het daar in mosambiek gebeur en wat se vrugte pluk die inwoners nou agv domgeit.

Jacobus ·

As ons opposisie ophou om mekaar aan te val, en net saamstaan teen ANC- beheer,mag ons dalk vorder. Dit help nie om net die ANC te kritiseer, vertel ook wat julle, opposisie, gaan en kan doen om kiesers se daaglikse lewe makliker en veiliger te maak.
Die groot probleem bly steeds, die staat en munisipaliteite is so met ANC-kaders gelaai, dat enige nuwe politieke party gaan sukkel om die spul te laat werk, neem Eskom as voorbeeld.

Aggie ·

Ek dink die DA en Action SA moet dringend hulle koppestamp-politiek laat vaar en om ‘n tafel sit om samewerking te bespreek om die ANC uit die kussings te lig. Anders gaan die kiesers hulle straf. Maar koekom dink ek dit sal waarskynlik nie gebeur nie, want die “Elke haan op sy eie mishoop-sindroom” is mos eie aan SA politiek !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.