Kimberley se gat(e) toegestop

Kimberley se paaie word reggemaak en herbou. (Foto’s: Verskaf)

Inwoners van Kimberley moes jaar ná jaar toekyk hoe duisende besoekers aan die Absa Wildeklawer-sporttoernooi stoei met onbegaanbare paaie in ʼn stad wat ál meer vervalle raak.

Toe DF Marais, ʼn ingenieur van Kimberley, verlede Mei sien hoe ʼn ambulans se band bars toe dit ʼn slaggat tref, was dit die laaste strooi.

Marais het kontak gemaak met die plaaslike belastingbetalersvereniging en sakekamer en die Kimberley 4 Kimberley-projek het die lig gesien.

Almal het ingespring, van die Ekapa-diamantmyn tot die Sol Plaatje-munisipaliteit.

Die resultaat?

Miljoene rande is ingevorder en ongeveer 50 000m² se padoppervlakte herseël.

“Ek kon nie langer op my hande sit en kyk hoe Kimberley verval nie. Ek moes iets doen.”

Marais het die afgelope week aan Maroela Media vertel hy het aanvanklik begin met net die geld wat hy self ingesit het, toe volg ʼn samewerkingsooreenkoms met die munisipaliteit en toe raak die myn betrokke. “Van daar af het alles momentum gekry.”

ʼn Splinternuwe pad in Kimberley.

Die samewerkingsooreenkoms is tussen die munisipaliteit, die Noord-Kaapse Kamer van Koophandel en Nywerheid (Nocci), plaaslike ondernemings en inwoners.

Die Sol Plaatje-munisipaliteit verskaf materiaal wat teer insluit en Marais hou toesig en verskaf die werkers.

Sakelui dra by tot die koste en Absa het ʼn beduidende skenking van R1 miljoen tot die projek gemaak. Die bank noem dit sy “verbintenis tot die ontwikkeling en verbetering van die infrastruktuur in die Kimberley-streek”. Dié bydrae gee ʼn hewige hupstoot aan die projek, wat mik om R10 miljoen in te samel vir kritieke padherstel en opknappings in die gebied.

Die Wildeklawer-sporttoernooi is tans aan die gang en vanjaar het 111 skole, met 4 425 spelers en afrigters van 192 spanne weer op die hoofstad van die Noord-Kaap toegesak. Darem dié keer met heelwat minder slaggate om te navigeer na en van die sportterrein.

Jana Grobbelaar, skakelwesebestuurder vir die Kimberley 4 Kimberley-projek, wat tot onlangs toe nog in die diamantstad gewoon het, sê die paaie tot by die Laerskool Eureka was onbegaanbaar. “Jy kon letterlik nie vyf meter ry sonder om ʼn slaggat kliphard te tref nie, al ry jy hoe versigtig. Dit doen groot skade aan ʼn motor as jy daagliks herhaaldelik deur slaggate ry. Op sommige plekke was dit so erg, jy moes 20 km/h ry net om by jou bestemming uit te kom.”

Grobbelaar het betrokke geraak by die projek omdat dit haar geraak het, aangesien sy daagliks haar kinders op- en afgelaai het. “Die eerste oggend wat ek kon skool toe ry sonder om tussen gate deur te navigeer, was ʼn absolute genot.”

Inwoners van Kimberley moes jaar ná jaar toekyk hoe duisende besoekers aan die Absa Wildeklawer-sporttoernooi stoei met onbegaanbare paaie in ʼn stad wat ál meer vervalle raak.

Sy sê die projek kry geweldig baie versoeke vir paaie wat reggemaak moet word, maar inwoners moet besef dit is ʼn proses. “Mense kla maklik en vra hoekom daar nie aan ʼn sekere pad gewerk word nie, maar neem in ag daar is ʼn volledige span mense, masjinerie, weerstoestande, veiligheidsrisiko’s en toesig betrokke. Om van die onkoste nie eens te praat nie. Hierdie projek gaan tyd neem en sal slegs ten volle slaag as ondernemings en die munisipaliteit saamwerk om die herstel te bewerkstellig.”

Grobbelaar sê hulle wil almal help, maar dit is ʼn verskriklike duur projek en daarom benodig hulle geld.

“Die einddoel is om Kimberley die mooi stad te maak wat hy eens was. Ons het die grootste diamantmyn in Suid-Afrika. Ons het so baie om te bied, as mens net die mooi begin raaksien, jou moue oprol en begin werk. Ons is reg vir die uitdaging en ons verwelkom almal wat betrokke raak deur ons in staat te stel om Kimberley te herstel soos hy moet wees: ʼn diamant uit eie reg.”

Rosemarie van der Vyver, ʼn inwoner, sê sy kan sien waar Kimberley 4 Kimberley oral besig is. “Dis ʼn wonderlike inisiatief en ons waardeer dit.”

Sekere strate in Kimberley is steeds, volgens Marette van Wyk, ʼn “nagmerrie” vir enigiemand om te ry en juis daarom kry die projek nou momentum om al hoe meer inwoners ʼn gemaklike ry-ervaring te gee.

Dirk Cloete sê hy draf gereeld in Petrusstraat in die oggende. Die straat was gewoonlik vol slaggate en hy beskryf dit as ʼn “fees” om nie meer bekommerd te wees oor slaggate nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Theuns ·

Dis prysenswaardig
BUITEN
Die ramaposa kaders sonder kwalifikasie wat die stadsraad vol sit word VOL betaal asof hul werk!
Maak dit ook deel van die program.om die nuttelose looters uit die stadsraad te kry anders sal dit NOOIT permanent oplossing wees.
Sleg bly sleg.. kry steeds NIKS vir belasting gelde.
Stelery gaan voort..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.