Kinders sterf ná ouma gif op vleis gooi

(Argieffoto)

Twee laerskoolkinders en hul eenjarige babasussie is dood nadat hulle vleis geëet het waarop hul ouma net vroeër die dag rotgif gesprinkel het.

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, sê die kinders, onderskeidelik ʼn gr. 1- en gr. 2-leerder aan Kaalfontein Primary School in Midrand, was Dinsdag by die skool toe hul ouma tuis rotgif op vleis gegooi het met die bedoeling om later rotte in die huis uit te roei. Die ouma het die vleis in ’n houer bo-op die yskas geplaas en kerk toe gegaan.

Die ouma het later by haar terugkeer die drie kinders voor die televisie aangetref. Sy het egter ook die houer waarin sy die vleis vroeër geplaas het, in die wasbak aangetref. Sy het haar kleinkinders dadelik daaroor uitgevra en hulle het bevestig dat hulle die vleis bo-op die yskas geëet het.

Mabona sê dat die ouma glo dadelik vir die kinders melk gegee het om te drink. Die drie kinders is egter later hospitaal toe geneem nadat hulle van maagpyn begin kla het. Al drie kinders is by hul aankoms by die hospitaal dood verklaar.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, het sy skok oor die voorval uitgespreek.

Dié voorval volg minder as ’n week ná drie boeties verlede Donderdag dood is nadat hulle ’n energiedrankie gedrink het wat hul pa die betrokke oggend vir hulle gegee het. Daar word vermoed dat die pa die energiedrankies vergiftig het. Hy word nou van moord aangekla.

Twee van die kinders is dood kort nadat hulle by die skool aangekom en van maagpyn gekla het. Die derde kind is na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas, maar is op pad daarheen dood.

Die seuns was leerders aan onderskeidelik die Ratanda Primary en Khanya Lesedi Secondary School, suid van Heidelberg.

Die pa het op die dag van hul dood glo energiedrankies aan al vyf sy kinders gegee. Een van die kinders is nog in ’n bedenklike toestand in die hospitaal. Die vyfde kind het glo nooit die energiedrankie gedrink nie en is ongedeerd.

Die pa het na bewering ná die voorval sy eie lewe probeer neem. Hy is tans onder polisiebewaking in die hospitaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johan David ·

Ja nee kyk……..die storie het meer vrae as antwoorde.

Nettie ·

Asseblief mense, gaan soek hulp, moenie moord pleeg nie!! Laai die kinders by ‘n kerk, skool, hospitaal of polisie af as jy moet, maar moenie hulle lewens neem nie.

Wat betref die ouma…. ai, wie het geld om rotte met vleis te lok? Tensy die vleis self oud was?! Nog steeds, dit klink als net te “fishy”. Boonop het sy nie dadelik met die kinders hospitaal toe gejaag toe hulle bevestig het dat hulle dit geeet het nie, maar eers “later”. Hoe wreed. Arme, arme kindertjies. Arme babatjie. Nog nie eers geleef nie. Mens se hart breek.

annie ·

On top? En toe kerk toe? Genade aan ons regters in hierdie bedroeflike land met die baie stories en betraande waarhede wat hulle moet verteer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.