TUT-klasse opgeskort weens onluste

Argieffoto.

Argieffoto.

Die bestuur van die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) het besluit om onderrig by al sy kampusse op te skort en koshuise te ontruim weens betogings, hoofsaaklik oor studentegeldfinansiering, wat gewelddadig geraak het.

TUT se bestuur het Donderdag in ʼn verklaring gesê betogings het na sy kampusse in Ga-Rankuwa, Witbank, Nelspruit en Pretoria uitgebrei, nadat dit voorverlede week by sy Soshanguve-Noord- en Suidkampus begin en alle bedrywighede daar opgeskort moes word.

Die universiteit se bestuur het Woensdagmiddag met studenteleiers vergader in ʼn poging om die twispunte op te los.

“Hoewel toenemende voorstelle van die universiteit se kant af ter tafel gelê is, is dit deur die studenteleiers verwerp,” het TUT in die verklaring gesê.

Koshuisstudente van verskeie kampusse is Vrydag in kennis gestel om teen Sondag hul kamers te ontruim om te voorkom dat ander studente in gevaar gestel word en skade aan eiendom aangerig word.

Die universiteit het bedrywighede onbepaald opgeskort totdat ʼn ooreenkoms met die Verteenwoordigende Studenteraad gesluit is. Die universiteit saal daagliks opdaterings op hul webwerf publiseer.

Die spertyd vir registrasies is ook tot 3 Maart verleng.

Die studente-organisasie Cosas kritiseer die universiteitbestuur dat hulle versuim om behoeftige studente te help. “Dit is uiters onverantwoordelik vir die bestuur om aan studente geen alternatief te verskaf buiten as om hulle huis toe te stuur nie,” het Sthembiso Ndlovu, die organisasie se adjunkvoorsitter in Gauteng, twee weke gelede gesê. “Studente moet hul akademiese kursusse kanselleer weens uitstaande fooie en begrotingsbesnoeiings van die staatsleningskema (NSFAS).”

Intussen het AfriForum Jeug gesê die bestuur van TUT moet ’n voorbeeld van moeilikheidmakers maak en hulle permanent skors.

“AfriForum Jeug gaan die universiteit versoek om teen betogende en gewelddadige studente op te tree wat verskeie kampusse van die instelling die afgelope paar weke onregeerbaar gemaak het,” het Henk Maree, voorsitter van die organisasie, in ʼn verklaring gesê. “Die oproerige studente het ook verlede week met die polisie slaags geraak.”

Maree het gesê dit is skreiend dat die studenteraad van TUT die geweld aanhits en nie tot verantwoording geroep word nie.

“Hoër onderwysinstellings kan nie toelaat dat klein groepies studente akademiese aktiwiteite ontwrig, onderrig ondermyn en die lewens van ander studente in gevaar stel nie. Studente wat by universiteite toegelaat word, moet besef dis ’n voorreg om te kan studeer en nie ’n reg nie,” het hy bygevoeg.

Hy het gesê studenteleiers is veronderstel om rolmodelle vir medestudente te wees. “As toekomstige leiers van die land, is dit jammer en baie kommerwekkend dat hulle so vroeg reeds begin om ’n kultuur van wanorde en geweld te propageer,” het hy bygevoeg.

Die universiteit is in September verlede jaar gedwing om sommige van sy kampusse te sluit nadat betogings oor finansiering gewelddadig geraak het. Die betogings het byna drie weke lank geduur en onder meer 18 motors is aan die brand gesteek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.