Kleiner styging in rouwaterkoste vir besproeiing verwelkom

(Argieffoto)

Die landbouorganisasie Agri SA het die kleiner rouwaterprysstygings wat die departement van water en sanitasie vir die 2021-’22-boekjaar voorgestel het, verwelkom. Die departement het die voorgestelde tariefverhogings Donderdag bekend gemaak.

Die departement sal nou aan die minister van water en sanitasie, Lindiwe Sisulu, aanbeveel dat waterhulpbronbestuurstariefstygings vir die besproeiingsektor vir die komende finansiële jaar beperk word tot 1,2% vir alle waterbestuursgebiede, behalwe die Oranjerivier-bestuursgebied waar ʼn toename van 10% ingevolge die bestaande Nasionale Prysingstrategie voorgestel word.

Agri SA sê met betrekking tot waterinfrastruktuurskoste sal die voorgestelde tariefstygings vir die besproeiingsektor beperk word tot 10%. Stygings van tot 50% is tydens die vroeëre rondes van die departement se provinsiale en sektorspesifieke vergaderings voorgestel.

Volgens die departement is die voorgestelde beperkte stygings hoofsaaklik bepaal in die lig van die ernstige ekonomiese gevolge van die Covid-19-pandemie. Dit gaan lei tot in ʼn krimping van die departement se bedryfsbegroting en -besteding in die komende boekjaar.

“Met groot dele van die binnelandse en wêreldwye ekonomie wat geweldig geraak is deur Covid-19, asook die huidige droogtetoestande in groot dele van Suid-Afrika, voorsien Agri SA dat besproeiingsboere toenemend onder ernstige finansiële druk sal verkeer,” het Wayman Kritzinger, voorsitter van Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid: Natuurlike Hulpbronne, gesê.

“Die voorgestelde koste sal grootliks bydra om sommige van die huidige en verwagte ekonomiese laste te versag.”

Janse Rabie, hoof van dié sentrum, sê hoewel Agri SA die voorgestelde tariewe verwelkom, is daar steeds groot kommer oor die gebrek aan deursigtigheid rondom die kosteverhaling, begroting en besteding ten opsigte van hierdie koste.

“Ons is diep bekommerd oor die hoë historiese uitstaande skuldvlakke soos aan ons voorgehou deur die departement. Wetsgehoorsame verbruikers moet nie hoef te betaal vir ondoeltreffende verhaling deur die regering nie.”

Agri SA sê hoewel die landboubedryf Suid-Afrika se grootste watergebruiker is, beloop die historiese uitstaande bedrae wat dié sektor die regering skuld minder as 10% van die departement se R18 miljard-debiteurerekening.

Die organisasie sê munisipaliteite en waterrade tesame skuld die regering ʼn verbysterende R13 miljard (72%).

Agri SA sê hy gaan voort om met die regering te skakel om te verseker dat water bekostigbaar bly, maar ook dat die bestuur en regulering daarvan verbeter word met die oog op gehaltewatervoorsiening.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.