Kleuterskoolmishandelingsaak na streekhof verwys

‘n Skermgreep uit die video.

Nellie Senwametsi (40), wat op kamera afgeneem is waar sy drie kleuters by die Ninnie’s Neurons-kleuterskool in Carletonville slaan en nou van kindermishandeling beskuldig word, se saak is Vrydag na die streekhof verwys.

Die skokkende video van die mishandeling het in April opslae gemaak.

Senwametsi is in hegtenis geneem, maar is intussen vrygelaat op borgtog.

Ouers en grootouers van die kleuters en besorgde inwoners het Vrydag buite die Carletonville-landdroshof betoog. Hulle het “gekneusde” poppe, wat verteenwoordig wat die beskuldigde aan hul kinders gedoen het, by hulle gehad. Hulle het ook skropborsels by hulle gehad, soos die een wat in die video gesien kan word wat Senwametsi gebruik het om die kinders mee te slaan.

Die betogers het swart T-hemde gedra waarop “#MiniMeToo” en “#NoExcuse” staan, gedra. Hul plakkate het gelui: “No excuse for child abuse” en “Speed up for justice”.

Senwametsi se saak is reeds ʼn paar keer uitgestel. Die beskuldigde is by een van haar hofverskynings in Junie, ná die hofverrigtinge, aangerand.

Regter Howard Raath het aangekondig dat Senwametsi se saak nou deur die streekhof hanteer sal word en persone in die hof het ʼn sug van verligting geslaak. Haar saak begin op 29 Augustus.

“Uiteindelik. Ná ʼn baie lang uitstel. Ons is dankbaar dat die saak nou uiteindelik gaan begin,” het ʼn ouer, wat anoniem wou bly, gesê. “Ons het die hof nodig vir geregtigheid. Ons kinders het monsters geword ná dit wat met hulle gebeur het. Ons moet seker maak dat so iets nooit weer gebeur nie.”

Ouers het Janine Edwards, eienaar van die kleuterskool, daarvan beskuldig dat sy die mishandeling versteek het. Sy het in ʼn afsonderlike hof verskyn waar haar saak tot 30 Augustus uitgestel is vir verdere ondersoek.

Ngaa Murombedzi, van Vroue en Mans teen Kindermishandeling (WMACA), ʼn organisasie wat die betrokke families ondersteun, het gesê sy is verheug dat die beskuldigde na die streekhof verwys is. “Ons is dankbaar om te sien dat daar vordering is. Dit gee die organisasie en die ouers hoop dat daar uiteindelik vrugte is van die poging wat hulle aanwend dat almal aanspreeklik gehou moet word,” het Murombedzi bygevoeg.

Senwametsi het intussen ʼn klag by die polisie aanhangig gemaak ná sy aangerand is. ʼn Vrou is intussen verkla. Sy sal op 23 Augustus in die hof verskyn. Volgens haar het Senwametsi die polisie gekontak en na haar huis toe gekom. “Ek was ʼn paar uur lank by die polisiestasie en die saak gaan nou hof toe.”

Lees alle vorige berigte oor die Carletonville-kleuterskool op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Ellen Maré ·

Hoe weet jy watse persoon jy in diens been? Sterkte, God is GROOT

lewies ·

Ellen jy is heeltemal korrek. Daar is terapeute wat wetenskaplike instrumente gebruik om individue te evalueer om die pasbaarheid (wenslikheid) van ‘n persoon in bepaalde pos, vas te stel. Die risiko wat jy vandag loop om aanstellings sonder evaluering te doen is baie groot en ontsettend gevaarlik, Selfs gekwalifiseerde onderwysers en enige mens wat met kinders werk MOET aan hierdie evaluering blootgestel word. Dit word vandag nog nie algemeen gedoen nie, omdat die politiese- korrektheid daarvan bevraagteken word.

Foxi ·

Ek sal ook daar by die hof gaan staan. En as ek kan, sal ek ook n paar hare wil uittrek! Daardie kindertjies se gesiggies spook nogsteeds by my.

Dorie Niemand ·

Neewat ek sal maar liewers nie teenwoordig wil wees bydi hof nie, want ek sal met my agterent ook indi tjiekie beland, ek sal dit verloor, totaal en al.

Petro ·

Selfde hier Dorie. Ek sal daai walglike vrou iets aandoen. Hoop geregtigheid geskied en sy sit lank agter tralies en kry nooit weer in haar lewe ‘n werk nie.

Natalene Visser ·

Baie goed dat die saak na die Streekhof verwys is. Immers kan die aanklag dan na n hoër kategorie verander word, indien nodig, met die gepaardgaande hoër vonnisse wat opgelê kan word.

Annie2 ·

As ‘n eienaar van ‘n besigheid moet jy weet wat aangaan. Met vandag se tegnologie is daar nie meer ‘n verskoning nie. Die persoon wat die video geneem het, is net so skuldig. Hierdie kindertjies moet versorg en vertroetel word. Ek as ‘n mamma wil weet my kosbare kind is veilig en word goed versorg. Sluit haar lank toe. Sy is ‘n monster.

lh ·

Tragies dat ouers ten duurste moet betaal, met die hoop dat jou kind met liedfe versorg word terwyl jy werk.
Ek hoop daar word ‘n voorbeeld van haar gemaak! Vir die bestuur het ek ook geen simpatie nie, jy was teenwoordig, hoe weet jy nie wat aangaan waar jy verantwoordelik is vir hierdie kindertjies nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.