Klokke beier vir Tutu: ‘Klein in statuur, groot in menswees’

Die kloktoring van die St. George-katedraal in Kaapstad. (Foto: Elize Parker)

Deur Elize Parker

So wag ek toe gister op die klokke van die St. George‑katedraal in Kaapstad om te lui en oor die stad te beier as eerbetoon aan die ontslape emeritus‑aartsbiskop Desmond Tutu.

Die ander reëlings was reeds in plek: Aartsbiskop Thabo Makgoba en katedraalleier Michael Weeder het reeds uitgewys waar in die katedraal self die gedenksteen sal kom. Buite word die erelaan se tydelike heining vol met ruikers vasgebind (my eie kannaruiker ook daar) en ʼn gedenkboek met boodskappe wys Kapenaars se stories van kennis maak op welke manier met die vriendelike geestelike in sy bekende purper gewaad.

Maar ek wag toe nog op die klokke, want dit verteenwoordig die katedraal so kennelik vir my.

Die helder naderroepgeluide wat ek dikwels hoor in my woonstel bo in die straat waarin die katedraal geleë is. Klokke wat aankondigings doen en boodskappe uitdra van huwelike, van geleenthede op die kerkkalender en ook herdenkingsdienste vir diegene wat nou ʼn hemeltuiste het.

Klokke wat in grendeltyd ook stil geword het en soos die grendeltydvlakke gestyg en gedaal het met virustydgolwe wat gekom en gegaan het, skielik op ander, nuwe tye begin lui het. Nie net meer Sondae voor eredienste nie, maar ook soms met ʼn herdenkingsdiens. Ook agter my woonstel die Presbiteriaanse kerk se klokke wat sommer skielik op ʼn dag om drie-uur ʼn begrafnis aankondig.

Al die gelui gaan gewoonlik oor skielike Covid-19-sterftes wat almal se lewensritme verander en klokke op nuwe tye en meer dikwels laat lui.

Maar gisteroggend nog was die klokke stil tot twaalfuur. En toe kom die kloktoringkaptein en hoofklokluier oftewel beiaardier, Eddie Esau, op sy stil en statige manier by die kloktoring aan en ek weet dis nou nie lank nie of die voorste klokluier gaan aan die toue in die kloktoring trek en die klokke bespeel.

Gewoonlik staan die klokkespelspelers in ʼn sirkel en maak oogkontak soos hulle die note van die klokkelied uitspeel deur aan die toue te trek. (Foto: Elize Parker)

Ek kom loer nou al reeds lank op die klokluiers se oefenaande in om te sien hoe dit gedoen word, want hierdie is nie klein klokke wat bloot net klingel nie. Hierdie klokke, waarvan een so groot soos ʼn klein motor is, beier tot teen Tafelberg vas voel dit soms vir my. Of ten minste dan die heuwels van Tamboerskloof en Oranjezicht uit. Die tempo verskil van jubelende klokke tot die meer besadigde erediensklokke en die somber troosdiensklokke.

Ek kyk en sien teen die muur waar die toue netjies opgevou hang. Teen die dak, asof uit ʼn klokkekandelaar, drapeer die dik toue hulself in ʼn patroon in die kloktoring self.

Die katedraal het destyds met die bou daarvan weggespring met agt klokke, maar na die gebou in die laat sewentigs herbou is, is geld gevind om die klokke terug na Engeland te stuur en dit is afgesmelt en tot tien verander. Hierdie klokke het na hul herinstallering met toue en wiele gewerk en dit verg ʼn sirkel van taai en fikse klokkespelkundiges om die Sondagoggend naderroepklokke te kan lui.

ʼn Toring gebou uit sandsteenklippe vanuit Tafelberg se klowe beskerm die klokke in die regop kloktoring neffens die katedraal. Die klokke self het name soos liefdadigheid en geloof.

Gewoonlik staan die klokkespelspelers in ʼn sirkel en maak oogkontak soos hulle die note van die klokkelied uitspeel deur aan die toue te trek. Vanoggend is dit Eddie en sy span van twee wat wag vir die noenkanon om oor die stad te dawer voor hulle begin. Die petite gryskop klokkeluier tel selfs af toe die horlosie wys dit is 11:59.

Hier tel presisie. Is perfeksie die norm.

Teen ‘n muur hang die toue netjies opgehang. (Foto: Elize Parker)

En met Eddie aan die voorpunt en die skraal man met die skaam bruin oë wat ook met ʼn tou aan die hand staan, begin hulle stiptelik om twaalfuur die ontslape aartsbiskop se gedenk-klokkespel. Af en toe maak hulle oogkontak, maar jare se oefening bepaal reeds wie watter tou wanneer gaan nadertrek met die sekere ritme van geoefende hande.

Op hierdie middaguur is dit ʼn gewyde klokkespel met die klokkespelers wat met ernstige oë en stemmige gesigte erkenning en eer bring aan die kerklike leier waarna hulle dikwels geluister het, hier in die hoekie van Kaapstad waar hy teen onreg baklei het.

Die erns waarmee hul hierdie taak aanpak, wys ook in die aanhoudende klokkekonsert wat hulle soos pelgrims aanpak, ʼn reis na ʼn wêreld waar mens fyner in jou gees word.

En so met die klokke se gelui in my ore stap ek in ʼn fyn misreën om ʼn koppie koffie te gaan drink. Getroos deur dit wat ek gehoor het. En dat die toue weer vandeesweek ritmies getrek sal word deur die gilde van klokkespelspelers met hul boodskap van harmonie en vrede, en hul kalm en gewyde manier om met die harte van diegene deur hul musiek geraak, om te gaan.

Ek is seker hiervan sou die aartsbiskop gehou het. Die kloktoring ten volle benut. Die katedraal-beiaardiers ernstig en toegewy op hul aangestelde plek. Die kloktoue geknoop en reg om getrek te word.

Want vir wyle Desmond Tutu speel mens nie windklokklingels nie. Klein in statuur, maar groot in menswees, het hy tien klokke van formaat, elk met sy eie naam, nodig om vyf dae lank om die middaguur die wêreld tot stilstand te dwing om oor sy nalatenskap te dink, dit klokslag hul eie te maak en die boodskap van reg en geregtigheid uit te dra.

Want dis soms net so nodig om op jou eie hartsklok te wag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.