Klopjag op perseel waar wasgoedpoeier vervals is

(Foto verskaf deur die Valke)

ʼn 42-jarige man sal binnekort in die Springs-landdroshof verskyn in verband met die oortreding van die Wet op Vervalste goedere.

Die Valke se eenheid wat ernstige handelsmisdaad ondersoek, saam met handelsmerkbeskermers van Spoor & Fisher-prokureurs, is deur die polisie in Springs, Gauteng bygestaan en het Vrydag toegeslaan op ʼn eiendom in Springs.

Lt.kol. Philani Nkwalase, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), het gesê die soektog is uitgevoer ná ʼn omvattende ondersoek oor die vervaardiging en verkope van vervalste waspoeier op die perseel. Monsters van die vervalste produkte is aangeskaf en die Valke het ʼn voorlopige ondersoek saam met die handelsmerkbeskermers gedoen.

“Die Valke se span het bevind die perseel word as ʼn grootskaalse vervaardiging- en verspreidingsfasiliteit gebruik. Groot hoeveelhede rou materiaal insluitend masjinerie en waspoeier, sonder enige handelsmerke, is gevind. Die span het ook beslag gelê op vervalste handelsmerketikette, skale en kleursel.”

Die waarde van die goedere waarop daar beslag gelê is, is nog nie bepaal nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.