Kommer oor Afrika se laaste oorblywende pikkewynspesie

Die Afrika-pikkewyn (Foto: Steve Benjamin CC-BY-ND)

’n Nuwe studie oor die paleohistoriese geografiese verspreiding van die bedreigde Afrika-pikkewyn sedert die laaste Ystydperk, is vandeesweek gepubliseer en skets ’n donker prentjie oor ’n pikkewynspesie aan’t uitsterf.

Luidens die studie, gepubliseer in die African Journal of Marine Science, het die Afrika-pikkewynbevolking vanaf meer as een miljoen broeipare in die vroeë 1900’s tot minder as 10 400 vandag afgeneem.

Dié skerp afname kan toegeskryf word aan ’n tienvoudige afname in gepaste nesmaakhabitat oor die afgelope 22 000 jaar, sê wetenskaplikes van die navorsingsgroep oor evolusionêre genomika in die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Plant- en Dierkunde, en die Skool vir Klimaatstudies.

Bedreigde spesie

Die internasionale unie vir die bewaring van die natuur het in Mei 2005 reeds die Afrika-pikkewyn as ’n bedreigde spesie geklassifiseer.

Die navorsingsgroep hoop egter nou om met sy studie nuwe insig te verskaf oor die kwesbaarheid van hierdie laaste oorblywende pikkewynspesie in Afrika.

Luidens die studie het Dasseneiland, ’n eiland langs die Weskus van ongeveer drie vierkante kilometer in oppervlak, in 1910 gewemel van sowat 1,45 miljoen pikkewyne.

Teen 2011 het die land se algehele pikkewynbevolking egter in duie gestort tot 21 000 broeipare, en teen 2019 het dit verder gedaal tot slegs 13 600.

Vandag word ongeveer 97% van die huidige bevolking in Suid-Afrika deur slegs sewe broeikolonies ondersteun.

Dr. Heath Beckett, hoofskrywer van die artikel en nadoktorale genoot by die US se Skool vir Klimaatstudies, sê die hoofdoel van die studie is om te toon dat daar groot veranderinge in die beskikbaarheid van habitat oor die afgelope 22 000 jaar was.

“Dit kon ’n massiewe uitwerking op pikkewynbevolkings gehad het. Hierdie bevolkings ervaar nou bykomend hiertoe ook mensgemaakte druk in die vorm van klimaatsverandering, habitatvernietiging en mededinging vir kos.”

Implikasies vir bewaringsbestuur

Die Afrika-pikkewyn (Foto: Steve Benjamin CC-BY-ND)

Beckett sê intense mededinging vir broeiruimte neem toe namate die eilandhabitat aansienlik verminder.

“Hierdie historiese buigsame aanpassingsreaksie bied bewaringsbestuurders ’n mate van ruimte om geskikte broeiruimtes beskikbaar te stel – selfs op vastelandterreine – solank toepaslike nes- en broeiplekke beskikbaar is.”

Maar selfs al sou die spesie die kans op hervestiging kry, is daar ook toenemende druk wat die mens in die hedendaagse samelewing uitoefen. “Wanneer pikkewyne en ander mariene lewe met die kommersiële visbedryf en die mensdom in die algemeen meeding om dieselfde voedselbronne, staan hulle dalk nie ’n kans nie,” verduidelik die navorsingsgroep.

Daarom waarsku hulle: “Vir enige suksesvolle hervestigingpoging as deel van ’n gekoördineerde reaksie om uitsterwing van die spesie te voorkom, is voldoende toegang tot mariene voedselbronne ’n noodsaaklike element.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Republikein in die Wes Kaap ·

Daar behoort ook kommer te wees oor die laaste Afrikaners.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.