Kommer oor Gauteng se plan om aannemingsdiens oor te neem

Argieffoto (Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Deur Daniel Steyn vir GroundUp

Die departement van maatskaplike ontwikkeling in Gauteng het planne om aannemingsdienste oor te neem by niewinsgerigte organisasies (NWO’s). Dit is ondanks ʼn uitspraak in 2022 in die hooggeregshof dat die departement se maatskaplike werkers “onwettig” opgetree het en dat die nasionale riglyne vir aanneming ongrondwetlik is. Die departement het appèl aangeteken teen dié uitspraak.

In ʼn memorandum wat in April aan kinderbeskermingsorganisasies in Gauteng uitgestuur is, het die departement gesê dat hy nie meer salarisse sal betaal vir maatskaplike werkers by NWO’s wat aannemings hanteer nie.

“Toegewyde [kinderbeskermingsorganisasies] hef ʼn fooi en kan dus finansieel en volhoubaar die aannemingsdiens ondersteun en daarmee voortgaan,” het die departement gesê.

Volgens die skrywe het die departement 58 maatskaplike werkers wat aannemingsdienste verskaf en is dus “in ʼn posisie om aannemingsdienste gratis te verskaf”.

In reaksie op GroundUp se vrae het Themba Gadeba, woordvoerder van die departement, aangevoer dat “sommige organisasies kinders vir ʼn arm en ʼn been aan internasionale egpare of individue verkoop”.

Gadeba het gesê die staat sal dié diens gratis verskaf “om seker te maak dat kinders nie verkoop word nie en dat die diens nie gekommersialiseer word nie” en om “mensehandel te voorkom”.

ʼn Direkteur van ʼn kinderbeskerming- en aannemingsorganisasie in Gauteng, wat anoniem met GroundUp gepraat het uit vrees vir gevolge, het gesê vrese oor organisasies se “kommersialisering” van aannemingsdienste word vergroot.

Aannemingsdienste word bestuur deur die Kinderwet, wat voorsiening maak vir die regering en NWO’s om die dienste te verskaf.

Die Kinderwet maak toegewings dat fooie gehef kan word vir aannemingsdienste. Die fooie word streng gereguleer, het die direkteur verduidelik. Vir internasionale aannemings, byvoorbeeld, mag ʼn organisasie nie meer vra as R35 000 nie. Dié beperking is sedert 2012 in plek en het nog nooit gestyg nie, ondanks die inflasieverhogings in die koste wat die organisasie moet aangaan.

Fooie word aangewend vir salarisse en administratiewe fooie en omdat die dienste deur NWO’s verskaf word, word enige surplusfooie weer in die organisasie teruggeploeg.

Die bron het gesê dat sommige van die regswerk in die aannemingsproses uiters gespesialiseerd is. Dit laat dus vrae ontstaan oor die departement se vermoë om ʼn doeltreffende aannemingsdiens te lewer wat aan wettige vereistes voldoen.

Gadebe, die departement se woordvoerder, het aan GroundUp gesê die departement het ʼn mandaat deur die Kinderwet om aannemingsdienste te lewer en “bekwaam homself” om die diens oor te neem.

Hofuitspraak teen die departement

Die Gautengse hooggeregshof het in 2022 bepaal dat die nasionale aannemingsriglyne, wat in Gauteng en verskeie ander provinsies ingestel is, “ongrondwetlik” is. Die saak is aanhangig gemaak deur twee enkelvroue wat deur die vroueregsdiens verteenwoordig is. Hulle het aangevoer die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling het hulle geteister en onregverdig behandel.

Die nasionale en provinsiale departemente van maatskaplike ontwikkeling het intussen appèl aangeteken teen die uitspraak. Dit moet nog aangehoor word.

Die twee vroue het gesê die departement se maatskaplike werkers het hulle geteister en geboelie. Die maatskaplike werkers het glo geweier om hul aannemings te prosesseer weens “kulturele redes” en het glo gedreig om die vroue se ouers in kennis te stel van hul swangerskappe, selfs al het hulle versoek om die inligting vertroulik te hou.

In een geval het maatskaplike werkers ʼn vrou ondervra oor haar planne vir aanneming en hulle het ʼn ondersoek van stapel gestuur en effektief die aanneming verhinder.

Selfs ná die vrou haar na die kinderhof gewend het, wat die departement beveel het om die vereiste dokumente uit te reik om die aanneming te finaliseer, het die departement geweier.

Regter Fiona Dippenaar het bevind dat die riglyne “verder strek as dit wat wetgewing toelaat en dat dit op beduidende maniere teenstrydig is met die Grondwet en die Wet”.

Die regter het gesê vrywillige toestemming vir aanneming deur die biologiese ouers is al wat vereis word. Daar is geen voorskrif vir enige “ondersoek” of dat familielede in kennis gestel moet word of toestemming moet gee indien die ma ouer is as 18 jaar nie.

Regter Dippenaar het gesê die departement het “ʼn gedragspatroon ontwikkel” wat ʼn impak het op die aanneming van kwesbare kinders. Sy het beveel dat die gedrag van die maatskaplike werkers onder die aandag van die Suid-Afrikaanse Raad vir Maatskaplike Dienswerkers gebring moet word.

GroundUp verneem min het verander sedert die hofsaak. Die maatskaplike werkers is nooit na die raad verwys nie en aannemingsdienste in Gauteng is steeds onder dieselfde bestuur as die tyd wat die hofsaak plaasgevind het.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp geplaas en word met vergunning gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Cassie Carstens ·

Die staat wil alles beheer, maar weet nie hoe om dit te doen nie. Tipies kommunisties.

RissiepitAnna ·

Ek het ook probeer om aan te neem, julle dis skokkend hoe hulle die arme kindertjies probeer “verkoop”. My hart is nogsteeds stukkend, jare later. Wat het van die boetie en sussietjie geword…….?

JohanR ·

D it is die ANC kommuniste se plan. Jy moet alles oorneem 1 minute na ‘n babatjie gebore is. Dan kan jy begin breinspoel. Die hoekom die Bela wet in gebring is. Ouers, skoolrade en onderwysers het nie meer se nie. Die ANC sal inskyf en hulle kommuniste manifes(breinspoeling) begin.

Gaitsigubib ·

Die ANC sien dit net as geleentheid om geld te maak. Smous kinders…….Siek!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.