Kommer oor voorgestelde naamsverandering vir Tzaneen

(Foto: Marinda Ceronio)

Die DA in Limpopo sê die ANC se voorgenome naamsverandering van Tzaneen en Haenertsburg word slegs vir politieke gewin voor die komende verkiesing gedoen om kiesers se aandag van diensleweringsprobleme by die munisipaliteit af te lei. Inwoners op die dorp is woedend dat die naam – wat reeds van ʼn inheemse taal afkomstig is – moontlik kan verander.

Die voorgestelde naamsveranderinge vir Tzaneen is om voortaan Tshaneng Town te heet, terwyl Haenertsburg moontlik na Bjatladi Ga-Makgoba verander word.

Lindy Wilson, die DA se provinsiale leier in Limpopo, sê die party het Dinsdag die volledige aansoekdokumente van Gerald Twala, die voorsitter van Limpopo se provinsiale geografiese pleknaamkomitee (LPGNC), aangevra ná daar besluit is om Vrydag  ʼn konsultasievergadering te hou oor die moontlik naamsveranderinge van dorpe en belangrike plekke binne die Tzaneen-munisipaliteit.

“Die brief aan die munisipale bestuurder waarin ʼn vergadering versoek word, is gegrond op die aansoeke van slegs drie mense, wat individueel aansoek gedoen het vir naamsveranderinge van 11 noemenswaardige plekke binne die munisipaliteit.

“Terwyl regstelling van kardinale belang is, is Haenertsburg en Tzaneen nie gevestig deur ʼn oorlog of enige verplasing van plaaslike mense nie,” sê Wilson.

Sy sê sommige van die voorgestelde naamsveranderinge voldoen nie aan die kriteria soos uiteengesit in die handboek van die Raad vir Suid-Afrikaanse Geografiese Name (RSAGN) nie.

“Dit is kommerwekkend dat die LPGNC voortgegaan het met ʼn naamsveranderingsproses wat volgens sy eie standaarde nie geskik is nie.”

Wynand de Jager, ʼn inwoner wat al 36 jaar in Tzaneen woon, meen die planne om die dorp se naam te verander, is heeltemal onvanpas.

“Die naam Tzaneen is reeds van ʼn inheemse taal afkomstig – dit beteken ‘mandjie vol vrugte’.

“Daar is soveel besighede wat met ‘Tzaneen’ begin, vir almal om hulle name te verander gaan regtig ʼn klomp geld kos.

“Pleks spandeer die staat eerder die geld om ons paaie op die dorp – wat in ʼn chaotiese toestand is – reg te maak. Hier is so baie slaggate, ons voertuie hou dit nie; dit is absoluut belaglik.

“Nou wil hulle geld mors op naamveranderings? En die name wat hulle voorstel is belaglik, hulle mors hulle tyd en energie met die verkeerde dinge,” sê De Jager.

(Foto: Mega Artists)

Wilson sê die proses word gedryf deur politieke gewin voor die komende verkiesing om kiesers se aandag van ernstige diensleweringsuitdagings binne die Tzaneen-munisipaliteit af te lei.

“Die koste-implikasies van so ’n troetelprojek deur die regerende party is ’n klap in die gesig vir gemeenskappe wat nog nie herstel het ná die swaarkry wat die Covid‑19-pandemie veroorsaak het nie en die ANC se voortgesette onvermoë om basiese dienste en geleenthede te verskaf.

“Die DA sal ʼn aanlyn petisie aan die gemeenskap van Tzaneen, wat reeds woedend is oor hierdie proses, instel en dit by die Naamsveranderingskomitee en die parlementêre petisiekomitee sowel as Limpopo se provinsiale geografiese pleknaamkomitee voorlê,” sê Wilson.

Twala het Donderdag egter aan Capricorn FM gesê ʼn omvattende konsultasieproses word gevolg en dat dit “voortydig” is om nou al kommer te opper. Volgens hom het enigiemand die reg om ʼn aansoek vir ʼn naamsverandering in te dien en dat behoorlike prosesse gevolg word voor enige veranderings goedgekeur word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Marie ·

Hoe belaglik …… mense gaan dood van die honger maar nogsteeds wil hulle plekname verander!!!!!!

Manie ·

Korrek, ek hoor so pas op die nuus dat Ramaphosa by die menseregte kommissie verkla is oor die 5 miljoen kinders in SA wat verhongering in die gesig staar. Dit terwyl hy en sy kaders duisende rande op ‘n oorsese vlug verorber. Voel hulle werklik iets vir hul eie mense?

Ragnarok ·

Manie. Nee hulle doen nie. Geen lands / wereld leier voel iets vir hulle mense. Dit is hoekom hul daar is

Opinie ·

Mense van Tzaneen, raak solank gewoond aan die nuwe naam. Verander, GAAN hy verander. Ons het mos nou al geleer in die verlede, as die kaders n ding gedoen wil he word alle prosesse gestoom roller.

ronel ·

Die ANC kan nie bou of instandhou, slegs afbreek en her-vernoem, die publiek moet begin opstaan teen die blatante vermorsing van geld op twak, terwyl hulle nie eens in staat is om een enkele sisteem of funksie positief te bestuur nie. As hul so graag wil name verander dan kan hulle seker maar veiling hou met al hul luukse voertuie en eiendom met korrupsie geld gekoop en dit gebruik om name te verander.

JohanR ·

Lekker geld om name van dorpe te verander, maar geen geld om daai selfde dorpe in goeie toestand te hou nie!

Mariana ·

Dit is waar. Spandeer miljoene aan naamsveranderinge terwyl kripeer van ellende in SA. Miljoene aan voosbetaalde belastingbetalers se hardverdiende geld word gespandeer op belaglikhede. Maak eers reg wat verkeerd is voor julle die dorpe straf met die onuitspreekbare name. ANC = vermorsing.

B-Man ·

Ou name is sinoniem met goeie dienslewering. Nuwe name pas by toestand van dorpe.

Papsak ·

Hier is nie geld nie land verarn by die uur hier is hongersnood nie kos nie alles te duur maar hulle wil dorps name verander hoekom so geld mors los ons dorpe se name uit julle gaan nie altyd regeer nie in my oog bly dit die name waarmee ek groot geword het dit het tyd geword anc moe uit geskop word gaan hulle aan bly niks van SA oor nie luister

Tipper ·

Daai selfde name wat hulle vir die kinders gee, kry die dorpe, stede en strate.

Luckykat ·

Was enige dorp/plek al suksesvol in die teenstaan van n naamsverandering? Ek dink nie so. Niemand wil dit verander nie, maar as jy weer sien is dit so.

Peter ·

toemaar, die geldjies sal opdroog, ons sal minder belasting betaal so wie gaan dan alles finansier, fonteintjie gaan leegloop

Oros Soros ·

Wie sal nou sulke plekke met sulke tjol name wil besoek? Nie ekke nie.

Martie ·

Hierdie regering dink jy kan ‘n geskiedenis uitwis met naamsverandering. Te onnosel om iets van waarde te doen nou moet name verander word. Bly nog steeds ‘n dorp wat verval het.

Henry ·

Mag die anc tot niet gaan , met al hulle leiers en nooit weer opstaan. Die anc moet as n vloekwoord beskou word in die toekoms.Dis hoekom hulle destyds verban is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.