Kontant, wapens gebuit tydens wildsplaas-aanval

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Lorraine Claasen)

Die polisie is op die spoor van vyf verdagtes wat Dinsdagaand op ’n wildsplaas in Limpopo toegeslaan het.

Die boer se vrou is tydens die aanval aangerand voordat die aanvallers met onder meer vuurwapens en ’n onbekende bedrag kontant in rande, Amerikaanse dollars en ponde op die vlug geslaan het.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, sê die aanvallers het Dinsdag omstreeks 21:15 toegang tot die wildsplaas langs die Tshipise-pad in die Musina-polisiëringsgebied verkry en die boer se vrou aangerand.

Die aanvallers het op kontant en ander waardevolle besittings aangedring en is eindelik in die boer se Land Cruiser met 11 vuurwapens, ’n skootrekenaar, ’n selfoon en ’n onbekende bedrag kontant in rande, Amerikaanse dollars en ponde – wat in die kluis was – vort.

Die voertuig se registrasie is DHG 739 L.

Die verdagtes het glo Tshivenda gepraat en het blou oorpakke gedra wat in wit aan die agterkant gedruk is.

Lt.genl. Thembi Hadebe, provinsiale polisiewoordvoerder, doen ’n beroep op gemeenskapslede om enige waardevolle inligting te verskaf wat tot die verdagtes se inhegtenisneming kan lei.

Hadebe het ook sy versekering gegee dat die polisie onder leiding van die provinsiale moord- en roof-eenheid onverpoos sal werk om die verdagtes op te spoor en in hegtenis te neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.