Kordate Faan patrolleer nou VTM

(Foto: Verskaf)

Ontmoet vir Faan, een van die Voortrekkermonument (VTM) se nuwe (en superskattige) vierpotige wagte.

Faan, ’n Anatoliese herdershond, het eerste vir diens aangemeld as deel van die monument se projek om die terrein te beveilig. Die projek behels die gebruik van honde en fietse om die terrein te patrolleer en gaste veiliger te help voel.

(Foto: Verskaf)

Die projek is vandeesmaand van stapel gestuur en die monument het Vrydag die eerste keer na die publiek uitgereik om te help met die skenking van jong, gesonde honde.

Skaars ’n week later het talle mense reeds hul hulp aangebied en gesorg dat 13 nuwe honde op die monument se terrein gehuisves sal word.

Faan is die eerste wat aanmeld vir diens.

“Ons is baie dankbaar vir hierdie skenkings en trots om te sien dat Afrikaners steeds hul moue oprol om hul kulturele erfenis uit te bou en te bewaar,” sê Henk Marais, bedryfshoof van die Voortrekkermonument.

(Foto: Verskaf)

“Die inkoop van die gemeenskap by die VTM is van onskatbare waarde. Hierdie projek wat ons geloods het, is weereens ’n bewys van hoe die gemeenskap wil help en wíl betrokke raak by die bewaring van ons erfenis en ons erfenisterreine.”

Die monument het besluit om sy veiligheid op die terrein op te skerp nadat daar die afgelope jaar twee misdaadvoorvalle by die monument aangemeld is.

Tydens die eerste voorval is twee toeriste en twee personeellede helder oordag beroof toe ʼn gewapende rower buite die Pioniersentrum by die Voortrekkermonument in Pretoria toegeslaan het. Die tweede voorval, toe ʼn veiligheidswag van sy selfoon beroof is, het ʼn maand later gevolg.

  • Afgesien van die skenking van honde, vra die monument ook vir skenkings van fietse. Vir enige navrae of om hulp aan te bied, stuur ’n e-pos na [email protected]of [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.