Honde help nou monument beveilig

Die Voortrekkermonument. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Die Voortrekkermonument (VTM) stel die veiligheid van hul besoekers hoog op prys. Daarom het dié erfenisterrein besluit om vanjaar fietse en honde aan te wend om veiligheid op die terrein op te skerp.

Die honde en fietse gaan ingespan word om die terrein te patrolleer en sodoende gaste veiliger te laat voel. Die monument se veldwagters gaan van die fietse gebruik maak.

Daar was die afgelope jaar twee voorvalle by die monument aangemeld. Tydens die eerste voorval is twee toeriste en twee personeellede helder oordag beroof toe ʼn gewapende rower buite die Pioniersentrum by die Voortrekkermonument (VTM) in Pretoria toegeslaan het. Die tweede voorval het ‘n maand daarna gevolg waar ‘n sekuriteitswag van sy selfoon beroof is.

Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, het die idee vir hierdie inisiatief gespruit uit staaltjies van die verlede en die vertellings van honde wat die Voortrekkers tydens die Groot Trek bygestaan het.

(Foto: Verskaf)nt

“In Louis Tregardt se dagboek skryf hy van ’n hond wat ’n rietbok kon plattrek en in Susanna Smit se dagboekinskrywings verwys sy na ’n geval waar blaffende honde hul trekgeselskap vroegtydig kon waarsku teen ’n naderende Zoeloe-aanval,” vertel Langner.

Die grootste inspirasie vir die projek spruit egter uit die werk van die monument se argitek, Gerard Moerdijk, se hond Leo (Leeu) wat ook op die friespanele in die monument pryk, vertel Langner.

“Niemand weet hoe die Voortrekkers se honde gelyk het nie, maar wel dat hulle troeteldiere gehad het. Moerdijk het ’n spesiale hond laat teel om dié diere se verhaal te vertel. Hy het gereken dat die Voortrekkers se honde slim genoeg moet wees om afgerig te word om skape en vee aan te jaag, maar sterk genoeg om in die nag vee teen leeus en ander wilde diere te beskerm.

“Moerdijk het toe ’n skaaphond en ’n Rhodesiese terriër geteel totdat hy ’n perfekte kombinasie gekry het van ’n slim sterk hond wat lief vir kinders is, maar vreesloos leeus en misdadigers kan bestorm, en dít is presies wat ons vir die Voortrekkermonument nou nodig het.”

Moerdijk se kleindogter, die bekende Afrikaanse skrywer Irma Joubert, onthou sélf haar oupa se formidabele vierpotige vriend en vertel hy is die gepaste inspirasie vir ’n projek soos hierdie. Haar pa, Michel Moerdijk, was ’n entomoloog en het hierdie hond vir haar oupa geteel.

Leo is in die 1950’s dood en op die plaas in die Waterberg-distrik begrawe. “’n Gepaste rusplek vir so ’n formidabele hond.”

Die monument het reeds ’n skenking van vier Duitse herdershonde ontvang. Die bestuur wil graag dié span uitbrei met nog waghonde en het ’n beroep op lede van die publiek gedoen vir die skenking van nog honde.

Afgesien van die skenking van honde, vra die monument ook vir skenkings van fietse.

Vir enige navrae of skenkings, stuur ’n e-pos na [email protected] of [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anel ·

Nou wil ek graag weet, hoe gaan die honde werk? Gaan hulle lis rondloop die hele terrein vol, gaan hulle hanteerders hê wat self opgelei is? Is die honde enigsins opgelei en waarvoor? Waar gaan die honde bly en wie gaan hulle versorg? Dit is nie net van kry honde nie. Maar laat ek eerder niks sê nie. As dit reg bestuur word, kan dit werk, anders, los eerder.

M ·

Skitterende plan…. Ganse …. én Volstruise is ook uitstekende “waghonde”

M ·

Skitterende plan…. Ganse …. én Volstruise is ook uitstekende “waghonde”

M ·

Foutjie hierbo ….Maroela laai baie stadig …. Jammer mede-Lesers !!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.