Krisis by Beitbrug ‘nie vragmotorbestuurders se skuld’

Verkeersopeenhoping by die Beitbrug-grenspos (Foto verskaf)

Die Padvragvereniging (RFA) en die tegniese diensverskaffersvereniging (TSPA) verwerp Aaron Motsoaledi, die minister van binnelandse sake, se bewering dat vragmotorbestuurders by die Beitbrug-grenspos opgedaag het sonder die regte dokumente en dat dit die rede is vir die huidige krisis by die grens tussen Suid-Afrika en Zimbabwe.

Maroela Media het vroeër berig chaos heers by die grenspos met vragmotors en voertuie wat in toue van tot 20 km lank wag. Vragmotorbestuurders wag glo al so lank as nege dae om die grens oor te steek.

Louise Wiggett, woordvoerder vir die TSPA, het gesê dié vereniging verskaf sagteware en tegniese dienste aan die bedryf. “Ons hou die Beitbrug-saga met toenemende kommer dop. Die humanitêre krisis by die grenspos is enorm en die impak op oorgrenshandel is katastrofies.”

Wiggett sê geen probleme, soos dit wat minister Motsoaledi aanvoer, is by die vereniging aangemeld nie en voorafgoedkeuring vir die doeane en dokumentasie wat vereis word vir oorgrenshandel is ʼn bekende proses wat al die afgelope 10 jaar in samewerking met die SAID vlot verloop.

“Die SAID het al jare lank aan die RFA en TSPA bevestig die vlak van voorafgoedkeuring vir padvragverklarings is so hoog as 99% en dit word jaar op jaar behaal. Dit word ook bevestig deur die getal goedkeuringsagente wat ook deur die TSPA bedien word. Dit is dus verbasend dat ʼn versuim om aan dié proses te voldoen, nou voorgehou word as ʼn rede vir die opeenhoping by die Beitbrug-grenspos.”

Gavin Kelly, uitvoerende hoof van die RFA, het dié stellings benadruk. “Die SAID vereis dat vragmotors vooraf goedkeuring moet kry, nog voor hulle die grenspos bereik. Dit is duidelik dat die oorsaak vir die vertragings by die grenspos ʼn gevolg is van die nuwe Covid-19-regulasies wat op 3 Desember 2020 ingestel is. Streng toetsvereistes sonder die nodige infrastruktuur, tesame met ʼn aandklokreël, veroorsaak ʼn groot bottelnek.”

Kelly het daarop gewys vier vragmotorbestuurders het reeds gesterf en talle ander ly sonder kos, water en medisyne waarop hulle staatmaak. “Daar is ook berigte van bestuurders wat aangeval en beroof word waar hulle in die ry staan en wag. Die vertragings beloop reeds ʼn direkte koste van minstens R35 miljoen vir die padvragbedryf en waarskynlik twee keer soveel vir die verbruiker. Vertragings by verskeie grensposte beloop die afgelope maand reeds minstens R770 miljoen,” het hy bygevoeg. “Die jongste krisis is ʼn risiko vir handel dryf met Afrika en bedreig die vinnig groeiende uitvoermark vir Suid-Afrikaanse goedere. Die regering moet vinnig reageer om ʼn humanitêre en sakekatastrofe te vermy – en om seker te maak dit gebeur nooit weer nie.”

Angel Khanyile, die DA se skaduminister van binnelandse sake, het ook intussen gesê Motsoaledi moet dringend ʼn gebeurlikheidsplan in werking stel om die chaos by die grenspos te takel.

“Die regering moes die seisoenale migrasie van Suid-Afrikaners oor grensposte in gedagte gehou het toe hulle die Covid-19-afsonderingsregulasies ingestel het,” het Khanyile gesê. “ʼn Versuim om dit te doen veroorsaak gevaarlike vlakke van verkeersopeenhopings by grensposte en die moontlikheid vir superverspreider-brandpunte waar duisende nou saamdrom.”

Die DA het herhaaldelik die regering gewaarsku dat afsonderingsregulasies aangepas moet word by elke staatsdepartement. “Die 22:00-aandklokreël, byvoorbeeld, moenie van toepassing wees waar burgers ure en dae lank by grensposte staan en wag nie. Ons kan nie toelaat dat skares dae lank sonder ablusie- of ontsmettingsgeriewe by grensposte vergader in gevaarlike warm weersomstandighede nie. Dit is ʼn uiters gevaarlike oorsig deur die regering en kom neer op uiterste nalatigheid.”

Khanyile meen Motsoaledi moes die impak van die aandklokreël tydens seisoenale migrasie verwag en daar rondom beplan het. “Hy moet seker maak dat mense oor die volgende paar weke vinnig en doeltreffend na en van Suid-Afrika kan beweeg sonder die risiko om superverspreider-brandpunte te veroorsaak. Die feesgety is nog lank nie verby nie. Minister Motsoaledi moet seker maak dat sy departement nie onwetend Suid-Afrikaners verder in gevaar stel deur aan die afsonderingsregulasies te probeer voldoen nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.