Landbou – die goeie en die slegte nuus

(Foto: Spencer Pugh/Unsplash)

’n Boer maak ’n plan. Altyd.

Suid-Afrika se voedselsekuriteit het die afgelope twee maande behoue gebly en die landboubedryf het in sekere sektore selfs floreer, te midde van moeilike tye.

“Die landboubedryf is een van die ekonomiese sektore wat te midde van die pandemie nie ingeperk is nie en is oor die algemeen tans in ’n goeie posisie,” meen Christo van der Rheede adjunk- uitvoerende direkteur van Agri SA.

Hy sê sommige boere sit met opgehoopte voorraad weens die restaurantbedryf wat gesluit bly en ander markte wat nie 100% funksioneer nie. Dit het veral sommige melkprodusente, aartappel- en hoenderboere geraak, maar egter nie boere gestuit om hul moue op te rol en gemeenskappe te ondersteun nie.

“Verskeie groot produseerders het hul oorskot aan gemeenskappe in nood geskenk. In die diep landelike gebiede waar die nood groot is, daar is boere wat bereid is om te help. Ek dink die regering, en selfs gewone landsburgers, besef nie die waarde wat boere toevoeg tot daardie gemeenskappe nie.”

Boere het tot dusver grootskaalse projekte onder mekaar georganiseer om honger gemeenskappe te voed. Van der Rheede was by toe sommige van dié projekte aangepak is.

“Boere was bereid om sonder enige formele raad of voorstelle, eenvoudig net aksie te neem, en hulle het groot vragte vars produkte geskenk. Dit was so netjies verpak en opgesny, mens sou dink dit is by ’n supermark gekoop.”

Agri SA en Agri Wes-Kaap het saam met boere in die omgewing gespan om pakkies met vars produkte aan die inwoners van Ravensmead en Parrow te verskaf. (Foto: Verskaf.)

Die markte

Volgens hom het boere in die sagtevrugtebedryf ’n baie goeie seisoen beleef en kon sommige boere selfs voortgaan met uitvoere, soos ook die geval tans in die sitrusbedryf.

“Uitvoerprodukte is tans geweldig in aanvraag. Boere in die bedrywe floreer. Tafeldruifboere het ook ’n baie goeie seisoen gehad.”  Hy meen die land se boere het oor die algemeen gesorg vir genoeg voorraad.

“Suid-Afrika is in ’n geweldige goeie posisie rakende voedselsekuriteit.”

Van der Rheede meen die rol van georganiseerde bedrywe in landbou kom ook sterk na vore.

“Produsente-organisasies help boere om probleme in die waardeketting op te los,” Agri SA het, volgens hom, in dié tyd hard gewerk om boere op verskeie maniere te ondersteun.

“Ons is besig om op ’n weeklikse basis aandag te gee aan grondslagkwessies via Agri SA se bedryfs-, provinsiale- en korporatiewe kamer. Moontlike oplossings word dan voorgelê aan die onderskeie ministeriële werkgroepe.”

Dit is egter nie alles goeie nuus nie.

(Foto: Marydale Droogtehulp/Facebook)

Moeilike tye

Daar is boere wat swaartrek, veral dié in droog geteisterde gebiede.

“Die regering het beslis nie genoeg gedoen om boere in dié gebiede by te staan nie. Die graad van probleme verskil van bedryf tot bedryf en distrik tot distrik.”  Volgens hom is die landboubedryf ’n mengelmoes van geleenthede en uitdagings.

“Dit is ’n komplekse bedryf met talle veranderlikes in die voedselketting wat die markte goed of sleg beïnvloed. Dan neem ons nog nie eens die weerpatrone in ag en hoe dit boere alleen kan kelder nie,” meen hy.

In sekere landbousektore krimp die boere se winsmarges weens die mark se reaksie op die pandemie, en veranderende pryse of aanvraag.

“Sommige boere wat hul skuld moet delg met die opbrengs van hul oes, gaan nou minder kapitaal op hul belegging terugkry.”

Hy meen die regering het nie genoeg gedoen om met ’n goeie strategie vorendag te kom om alle boere in verskeie omstandighede by te staan nie. Dit is, volgens hom, teleurstellend omdat boere vir die armstes van die armes in diep landelike gebiede sorg.

“Sommige boere het baie groter uitdagings as ander. Daar is nie een standaard oplossing of skenking wat boere se unieke uitdagings die hoof kan bied nie. Daarom moet die regering met ’n goeie en uitvoerbare oplossing na vore kom om die boere wat werklik sukkel, te help.”

Van der Rheede het nie groot vertroue in die regering se siftingsproses rakende die uitbetaling van fondse wat wel beskikbaar gestel is nie.

“Dit gaan meer as bloot net ’n eenmalige kontantinspuiting kos om sommige boere werklik te help. Daar is nie ’n eenvoudige oplossing vir dié uitdagings nie.”

Die Melkprodusente organisasie (MPO), wat meeste van die melkboere in die land verteenwoordig, meen in dié tyd is dit van kardinale belang om meganismes te ontwikkel om die vloei van inligting in die suiwelwaardeketting te versnel. Dit is ten einde vraag-georiënteerde produksie te verseker, sodat melkprodusente nie hul melk hoef te stort nie. Hulle hou voortdurend die bedryf en regering op hoogte van voorraadopbouing van suiwelprodukte op sowel internasionale as plaaslike vlak.  Sodoende kan die gevaar van voorraadopbouing doeltreffend bestuur word wanneer wêreldhandel weer normaliseer.

“Teen die agtergrond van die onbekende vraag namate die ekonomie inkrimp, is die MPO van mening dat produsente omsigtig moet wees en nie volumes najaag nie. Produsentepryse het vir die eerste keer in meer as twee jaar begin herstel, en in hierdie omstandighede gaan hoër volumes hierdie tendens belemmer,” meen Bertus van Heerden, hoofekonoom van die MPO.

(Foto: pixabay.com)

Daar is steeds hoop

Van der Rheede glo boere sal die landboubedryf steeds dra.

“’n Boer is aanpasbaar, juis weens die bedryf waarin hy is. Daar is soveel dinge wat boere steeds hoop gee. ’n Boer was nog altyd ’n hoopvolle mens, want seisoen ná seisoen hoop hulle op reën, of op goeie markpryse of op beter omstandighede.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Danie ·

Baie dankbaar dat die boere goed doen, maar as daar sulke groot opgehoopte voorraad is hoekom kom die pryse van melk, hoender en aartappels nie af nie. Ek het ook gevind jy gaan koop by ons wel bekende groente en vrugte winkel wat spog hoe hul reg oor die land winskope aanbied en binne n dag of twee vrot die goed. Ek het byvoorbeeld n sak lemoene gekoop. 20%het gevrot 50 % was uitgedroog en 30% eetbaar nou waar is die waarde van jou geld. Selfde met die naartjies en tamaties praat nie eens van uie en selfs aartappels nie. Jy skil die goed dan kry jy bruin kol tot in die middel dus gooi jy 40% weg. Vra weer my geld waarmee ek betaal het vuil kolle op maar verloor nie waarfe nie. Dus is die gehalte nie so goed nie.

Jaco ·

ravensmead en parow het net wit mense en kleurlinge. mag hulle kos kry? is dit toelaatbaar? In Gauteng is dit nie toelaatbaar nie. die argument is dat daardie mense “not black enough”is.
Daar is mos twee stelle reels in SA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.