Langste dag, kortste nag weer op ons

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die tyd gaan veral vandeesweek verby kruip vir diegene wat nog voor hul rekenaars sit en die sekondes aftel tot ʼn seevakansie realiteit word.

Dit is omdat Woensdag die langste dag en kortste nag van die jaar is.

Luidens die webtuiste timeanddate, wat die jaarlikse winter- en somersonstilstand in die Suidelike en Noordelike Halfrond monitor, het vanjaar se somersonstilstand om 05:12 begin toe die son in Pretoria opgekom het. Die son sal na verwagting weer om 18:57 sak.

Pretorianers se sonsopkoms is reeds vyf minute later as op 1 Desember, terwyl die son byna 15 minute later sak as drie weke gelede.

Deur die loop van die jaar beweeg die subsolêre punt – die plek op die aarde se oppervlak wat direk onder die son is – stadig langs ʼn noord-suid-as. Die Desember-sonstilstand is dus die oomblik wat die son direk bo ʼn deel van die Suidelike Halfrond digby die ewenaar is. Dit is die mees suidelike breedtegraad wat dit gedurende die jaar bereik.

Ná die sonstilstand begin dit weer noord beweeg waar dit sy mees noordelike punt bereik – dit veroorsaak die Junie-sonstilstand. Die langste nag en kortste dag word jaarliks op 21 Junie aangeteken.

Die uitwerking van die sonstilstand word die meeste waargeneem in lande wat die verste van die ewenaar is.

Vir diegene in die Noordelike Halfrond, wat die kortste dag en langste nag gaan beleef, is die uitwerking veral tasbaar. In tropiese gebiede is die kortste dag net korter as 12 uur, maar in ander gebiede is dit aansienlik korter. Plekke binne die Arktiese Sirkel ervaar boonop ʼn poolnag wanneer die son glad nie opkom nie.

Volgens kenners word die lengte van die langste dag egter deur elke eeu wat verby gaan, beïnvloed. Dié dae word minder en minder ekstreem, wat beteken die langste dag word al hoe korter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.