‘Lewensgevaarlike’ N10-slaggatpad by Sanral aangemeld

Slaggate op die N10 (Foto verskaf deur die DA)

Die Demokratiese Alliansie het die omstrede N10-slaggatpad by die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) aangemeld.

“Die hoeveelheid voertuie, veral vragmotors wat mangaan vervoer, het toegeneem en dié nasionale pad het ʼn lewensgevaarlike plek geword,” sê Kobus Botha, DA-lid in die Oos-Kaapse portefeuljekomitee oor vervoer. “Die padoppervlak het verswak en is vol slaggate. Motoriste word gedwing om voor aankomende verkeer in te swaai of katastrofiese skade aan hul voertuie opdoen.”

Botha sê paaie is vir die provinsie se ekonomie wat are vir die hart is.

“Groot dele van die N10 tussen Cradock en Nelson Mandelabaai het baie verswak. Slaggate op die pad tussen Kookhuis en Paterson is lewensgevaarlik.”

Die paaie het hul dikte verloor en doen gereeld oppervlakskade op wanneer daar nie voortdurend instandhouding gedoen word nie. Dit verminder die lewensduur van die paaie, voeg hy by. “Die agteruitgang word vererger deur die swaar vragmotors.”

Botha het Sanral versoek om dringend in te gryp om die N10 te herstel en het ʼn aanduiding versoek wat betref die begroting en tydsraamwerk om die herstelwerk te doen.

“Die het die probleem ook na die DA se skaduminister van vervoer, Chris Hunsinger, geëskaleer om die kwessie op ʼn nasionale vlak aan te roer.”

Die DA versoek diegene wat betrokke is by die vervoer van mangaan om meer bedagsaam te wees, ander padgebruikers in ag te neem en te alle tye die padreëls te gehoorsaam.

“Die regering moet kreatief dink om die uitdagings te takel waardeur ons in die gesig gestaar word. Dit sluit staat/privaat-vennootskappe in, waar privaat maatskappye aangestel kan word om die probleem van slaggate op te los.”

Botha sê nuwe tegnologie moet ook oorweeg word soos plastiek paaie wat in die DA-geleide Kouga-munisipaliteit gebruik word. “Hierdie innoverende oplossing verg baie minder instandhouding en hergebruik tonne plastiekafval wat andersins net op die vullishoop sou lê.”

Hy sê indien die paaie meer bruikbaar is wanneer slaggate herstel word en behoorlike instandhouding gedoen word, sal noodlottige ongelukke en skade aan voertuie verminder.

“Indien hierdie uitdagings nie getakel word nie, sal dit die provinsiale ekonomie verder laat agteruit gaan. Paaie is noodsaaklik vir ekonomiese aktiwiteit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.