Lewenslank vir ‘ervare’ Opod-ondersoeker se moordenaar

Argieffoto (Foto: VBlock/Pixabay)

Khumbulani Johannes Sithole (35) is in die hooggeregshof in Pretoria tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op ’n senior ondersoekbeampte verbonde aan die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod).

Samson Mandlakayise Mahlangu (46) is op 10 Maart 2020 op sy kleinhoewe in die omgewing van Cullinan, oos van Pretoria, doodgeskiet.

Volgens Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Gauteng, het Sithole en sy makkers omstreeks 03:30 die kleinhoewe in die Jakkalsdans-omgewing betree. Die kleinhoewe, waarop ’n lodge met kothuise en ’n konferensiefasiliteit is, het aan Mahlangu behoort.

Mahlangu se vrou het ’n slagofferimpak-verslag by die hof ingedien en daarin het sy vertel hoe sy ná haar man se dood aan angsaanvalle en depressie begin ly het. Sy het ook vertel dat sy bekommerd is oor haar seun wat op die ouderdom van twee jaar sy pa verloor het.

Ter verswaring van die vonnis het die staatsaanklaer, adv. Juliet Makgwatha, aangevoer dat Sithole dit haarfyn beplan het om Mahlangu te vermoor. Sy het ook die hof daaraan herinner dat hy (Sithole) in Augustus verlede jaar skuldig bevind is op twee aanklagte van moord, twee aanklagte van poging tot moord, die besit van ’n onwettige vuurwapen en die onwettige besit van ammunisie. Hierdie aanklagte hou nie verband met die moord op Mahlangu nie.

Volgens Mahanjana het Mahlangu die betrokke aand wakker geskrik van ’n harde geluid in die huis. Hy het ondersoek gaan instel waar Sithole hom toe deur die venster doodgeskiet het. Sithole het daarna ’n 9 mm-pistool, motor, selfone, huistoestelle en kos gebuit.

Sithole is op 26 Maart 2020 in verband met ’n ander saak in hegtenis geneem.

“Tydens ondervraging het hy gebieg dat hy ook vir Mahlangu doodgeskiet en R50 000 as beloning daarvoor ontvang het. Hy het ná sy bekentenis die misdaadtoneel vir die polisie uitgewys.”

Sithole het in die hof skuld ontken.

“Die staat se oorweldigende getuienis en bewyse teen hom het egter tot sy skuldigbevinding gelei.”

Sithole is ’n lewenslange vonnis plus 30 jaar tronkstraf opgelê op aanklagte van moord, huisbraak met die opset om te roof, roof met verswarende omstandighede, huisbraak met die opset om te steel, diefstal, die onwettige besit van ’n vuurwapen en die onwettige besit van ammunisie.

Die regter het met die staat saamgestem dat gierigheid die motief agter die moord was.

“Hy (Sithole) het ’n wetstoepassingsbeampte koelbloedig vermoor. Daarom is daar geen dwingende en wesenlike omstandighede gevind om van die voorgeskrewe minimum vonnis af te wyk nie,” het die regter tydens die vonnisoplegging gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Koos 100 ·

Ok. Goed en wel, maar waar is die brein hieragter? Iemand het hom betaal om dit te doen.

Manie ·

Dis altyd die probleem, die skieter word gevang en skuldig bevind, maar die opdraggewer kom los.

Danie ·

Dit is werk om verdere ondersoek te doen die polisie spog met die skuldigbevinding.Die groot brein dalk n persoon van belang.

Casper ·

Mahlangu is op 10 Maart dood geskiet.Sithole is op 26 Maart i v m ‘n ander saak inhegtenis geneem.In Augustus word hy skuldig bevind aan 2 klagtes van moord 2 van poging tot moord besit van onwettige vuurwapen en ammunisie.Waar was hy dan tussen Maart en Augystus dat hy nie in die tronk was nie,seker borg gekry.Is hy al gevonnis vir die ander 2 moordsake en poging tot moord.Wue hethom gehuur of gaan die kwessie nie ondersoek word nie.

Madz ·

..ek sal OOK graag wil weet WIE het hom R50 000 betaal om die man te vermoor.

quartus ·

net jammer dat “lewenslank” nie regtig lewenslank is in Suid Afrika nie

Eden ·

Die eintlike vraag is hoe het Mahlangu met ‘n staatsalaris ‘n lodge met kothuise en konferensiegeriewe bekostig.

Peach ·

Eden, hoe het die Oppenheimers en Ruperts aan hul besittings gekom?

Veronika ·

Okay nou die persoon/persone in wie se opdrag hy die sluipmoord uitgevoer het??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.